’n Voerkraal in Gauteng, wie se identiteit kragtens die Wet op Dieresiektes nie bekend gemaak mag word nie, is onder kwarantyn geplaas met die oog op moontlike bek-en-klouseer.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, sê in ’n verklaring dit het aan die lig gekom dat diere vanuit Vryheid in KwaZulu-Natal na die voerkraal vervoer is en die kwarantyn is as ’n voorkomende maatreël ingestel.
Vryheid is in die beskermde gebied wat deur die departement afgekondig is, waar verskerpte waarneming en toetse vir die siekte gedoen word, maar waar die beweging van diere nog nie beperk word nie.
Die diere vanuit Vryheid was dalk in aanmerking met twee verdagte diere wat moontlik uit die besmette gebied kom. Volgens die verklaring is toetse op bloedmonsters by die voerkraal serologies positief, maar geen deeltjies van die virus kan opgespoor word nie. Dit kan vertolk word as ’n ou besmetting met geen virusse wat meer in omloop is nie.
Volgens die departement is daar, saam met die bestuur van die voerkraal, op ’n beheerstrategie besluit. Mense wat vee in die besmette gebied gekoop of diere vanuit die gebied vervoer het, word gevra om dit by staatsveeartse aan te meld.
Intussen kla Sampro, die organisasie vir melkverwerkers, dat buurlande steeds weier om ingevoerde produkte te aanvaar, al word dit volgens die vereistes van die OIE (Internasionale Organisasies vir Dieresiektes) verwerk.
Volgens Sampro verloor sy lede R2 miljoen per dag aan buitelandse verdienste. Die departement het ooreenkomste met Namibië, Swaziland en Zimbabwe voorgelê wat toon dat hulle wel verwerkte diereprodukte sal aanvaar.
23 Maart 2011