
’n Noord-Kaapse beesboer en ’n Vrystaatse Merino-teler is op ’n glansgeleentheid in Bloemfontein aangewys as Voermol se voortreflikste veeboere van 2014.
Hulle is mnre. Jan van Zyl en sy seuns, Gideon en Jan (jnr.), van Kroonvee by Vryburg en Olifantshoek en PD Jacobs en sy skoonseun, Willem Grobbelaar, van Pdrino-Merino, Trompsburg.
Van die belangrikste kriteria was doeltreffendheid van reproduksie, die betrokkenheid by die georganiseerde landbou, bemarking, hulpbron- en reproduksiebestuur, teeldoelwitte en finansiële bestuur.
Kroon-vee:
Die Van Zyls bedryf ’n uitgebreide beesboerdery by Vryburg en Olifantshoek en kan met reg as bewaringsboere beskou word. Die besonder goeie toestand waarin hul weiveld verkeer, getuig van die erns wat hulle met hulle vee maak.
Hulle beweidingstelsel sluit kort wei- en lang rustydperke in. Die kampgroottes is gemiddeld 75 ha, terwyl ongeveer 6 tot 8 kampe in rotasie aan ’n teelbul met sy koeie toegeken word.
Die besproeiingsvertakking verskaf voer vir die afronding van die diere en dien as voerbank vir droogtes.
Op die verskillende plase boer hulle met kommersiële en stoet-Brahmane, Afrikaners, Simbras en Afrisim.
Pdrino-Merino:Jacobs en Grobbelaar van Vlakfontein, Trompsburg, boer met kommersiële en stoet-Merino’s op 9 000 ha. Die gemiddelde jaarlikse somerreënval is sowat 450 mm en die veld se weidingkapasiteit wissel van 9 tot 11 ha per GVE. Die kampgroottes wissel van 250 tot 300 ha.
Hulle verbou ook 80 ha aangeplante weiding onder besproeiing.
Hul huidige oogmerk is vertikale uitbreiding, en ’n kenmerk van dié boerdery is die funksionele netheid van hanteringsgeriewe, heinings, hekke en algemene infrastruktuur.
Die teeldoelwit is om die mees ekonomiese skaap te teel met ’n uitstaande bouvorm en superieure fynwol.
* Ander benoemdes was die beesboere mnre. Kiewiet en Nelius Ferreira van die distrik Harrismith en Anthony Evans van die Rhys Evans-groep by Viljoenskroon. Die ander skaapboerfinaliste was mnre. Attie Albertyn van Bredasdorp en Gawie Carstens van Porterville.
Byskrif: Die wenners van Voermol se prestige-toekenning van Nasionale Bees- en Skaapboer van die Jaar: Van links is mnre. Paul van den Berg (ENB), Jan van Zyl (junior), Gideon van Zyl en Jan van Zyl van Kroonvee by Vryburg (beesboerwenner), Isak Staats (BKB) en PD Jacobs en sy skoonseun, Willem Grobbelaar, van Pdrino-Merino, Trompsburg (skaapboerwenner), en Kenny Crampton (nasionale verkoopbestuurder, Voermol). Foto: Johan Norval