Die hoendervleisbedryf het ’n jaar agter die rug waarin invoer laer was as vorige jare, maar het met baie hoë voerpryse en verskeie voëlgriep-uitbrekings te kampe gehad.
Die genoteerde maatskappy Astral Foods het met die bekendmaking van sy resultate vir die jaar tot einde September gesê die maandelikse gemiddeld van 37 000 ton ingevoerde hoendervleis was 8% laer as in sy vorige boekjaar, maar dat invoer wel ’n probleem bly.
’n Paar weke vroeër het die bedryf gehoor dat die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) aanbeveel het dat die bestaande teenstortingstariewe op ingevoerde hoenderstukke aan die been uit Duitsland, Nederland en Brittanje met ’n verdere vyf jaar verleng word.