
’n Vol Katsedam, wat deel is van die geïntegreerde Vaalrivierstelsel, beteken watersekerheid vir die komende paar jaar, ondanks vrese vir oorstromings as dié dam in Lesotho binnekort sou begin oorloop.
Die vlak van die Katsedam, wat in 2011 laas oorgeloop het, staan vandag (Vrydag, 14 Januarie 2022) op 99,2%, luidens die jongste syfers uitgereik deur die departement van waterwese en sanitasie.
Die gesamentlike vlak van die sewe damme in die stelsel tans op 98,4%, aansienlik meer as die 74,1% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Die Katsedam het verlede jaar dié tyd op 50,5% gestaan.
Volgens dr. Anthony Turton het die Katsedam twee uitlaatroetes vir water. Die eerste is ’n geboude roete via die Trans-Caledontonnel na die Liebenbergsvleirivier, van waar dit na die Vaaldam vloei. Lewering gaan voort ongeag die vlak van die Katsedam.
Die natuurlike uitvloei van die Katsedam is in die Malibamatsorivier wat in Lesotho in die Oranjerivier (Senqurivier in Lesotho) vloei waarna dit na die Atlantiese Oseaan vloei.
Die oorvloei van die dam sal dus saamvloei met die hoofvloei van die Oranjerivier, en as die stelsel reeds vol is, sal die water stroomaf vloei.
Die meeste damme is ontwerp vir watersekuriteit buite die landbousektor, sê Turton.
“Dit is waarskynlik dat saailande langs die rivier sal oorstroom, maar dit sal histories bekend wees van vorige gebeure.”
Prof. Mike Muller van die Universiteit van Witwatersrand se skool vir staatsbestuur en ’n voormalige direkteur-generaal van die departement van waterwese, sê as die damme nie daar was nie, sou die water in elk geval in die rivier afgevloei het.
Geen ‘ekstra druk’ nie
“Daar is dus geen ‘ekstra druk’ nie. Die vloei van die rivier sal soortgelyk wees aan wat sou plaasvind ná swaar reënval voor die dam gebou is. Damme verminder net die vloede, mits hulle deeglik bestuur word.
“Boere en munisipaliteite moet weet dat wanneer die rivier in vloed is, moet hulle pomptoerusting en dies meer verwyder en plaaslike inwoners waarsku om versigtig te wees.”
Turton benadruk dat die teenwoordigheid van damme bloot die vloedpols verswak en die riviervloei bestendiger maak.
“Dit verander die ekologiese funksie van die rivier en een problematiese gevolg is die teenwoordigheid van ’n swartvlieg (Simulium chutteri) gedurende lae vloei.”
Hy sê die departement van waterwese en sanitasie volg ’n stel bedryfsreëls om die risiko van vloede te bestuur, met al die damme binne die Vaalrivierstelsel wat saam bestuur word.
“Die doelstelling is om die damme so vol moontlik vir so lank moontlik te hou, maar indien hulle weet daar is ’n vloed op pad, kan water vrygelaat word na damme stroomaf om die inkomende vloedwater te vang en om die spits te verswak.
“Dit is ’n komplekse balanseertoertjie, maar die departement van water en sanitasie is goed daarmee.”
Waterseker
Turton benadruk dat die huidige hoë damvlakke en reënval dié seisoen beteken dat watersekuriteit op ’n nasionale vlak vir die volgende vyf jaar haalbaar is.
“Dit sal ook politieke gevolge hê aangesien die volgende algemene verkiesing sal plaasvind in ’n tydperk waar watersekuriteit minder van ’n probeem sal wees as wat dit was.”
Hy benadruk egter dat erge waternood steeds in die Oos-Kaap ervaar word, met alle aanduidings wat daarop dui dat daar wateronsekerheid is tot op ’n punt waar normale ekonomiese aktiwiteite ingekort word.
“Beleggers moet in die toekoms kan glo en sonder watersekerheid kan hulle besluit om beleggings terug te hou.”
Volgens Muller is die goeie reën welkom, al het uiterse weerstoestande sommige gemeenskappe rondom Buffalo City in die Oos-Kaap geraak, terwyl swaar reën in die Vrystaat veroorsaak dat boere dit moeilik vind om in hulle lande te kom.
“Die reën het ook gehelp om die grondwater in die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes aan te vul, wat ons in die komende jare goed sal plaas.”
Hy sê net soos met die Katsedam moet die goeie reën en vol damme verwelkom word, “maar ons moenie die fout maak om te glo ons probleme met watervoorsiening is verby nie.
“Vir die res van die seisoen sal waterbestuurders, -gebruikers en gemeenskappe naby aan riviere bewus moet wees daarvan dat die grond nat en damme vol is. Die risiko vir vloede sal redelik hoog bly vir die res van die somer.”
Hy sê omdat die Katsedam water van die Oranje- na die Vaalrivier oordra, sal die grootte en risiko van vloede stroomaf verminder.
“Die bestuurders van die Vaalrivierstelsel sal bly wees om die Katsedam vol te sien, aangesien dit reserwes bied vir watergebruikers in Gauteng en verder.”