
Dié staaltjie van mnr. Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, het boere op Silostrat se jaarlikse markvoorlegging op Nampopark by Bothaville lekker laat lag.
Op ’n dag waar ontleders en kenners vooruitskouings gedoen het oor wat die weer, markte en die ekonomie in die volgende bemarkingsjaar vir die landbou inhou, is die onvoorspelbaarheid waaraan Suid-Afrikaanse boere uitgelewer is, deurlopend beklemtoon. Daar was ook heelwat gunstige faktore wat steeds geleenthede bied, te midde van groot onsekerheid.
Goeie weervooruitsigte
Die waarskynlikheid van nog ’n nat La Niña-jaar vir die somerreënstreke is baie sterker as ’n El Niño of ’n neutrale jaar. Volgens mnr. Tonie Rossouw, wat onlangs afgetree het as jare lange weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Bloemfontein, blyk dié scenario uit verskeie voorspellings wat deur verskillende lande se modelle aangetoon word.
“Die El Niño- of La Niña-siklusse word deur die wisselings in seetemperatuur in die Stille Oseaan veroorsaak en dit is relatief maklik om seetemperatuur te voorspel.”
Rossouw verwag reeds in die lente en begin van die somer bonormale reën in die somerreënstreke, met ’n gunstige invloed op die landbou. Reënvooruitsigte oor die suidwestelike deel van Suid-Afrika dui op ondernormale reën vir die lente wat later na bonormale reën verbeter. Op langer termyn lyk dit volgens Rossouw of die reënvalsiklus vir tien jaar onder die normale gemiddelde beweeg en dan weer vir 10 jaar bonormaal is. “Ons is nou in die middel van die bonormale siklus, die kurwe gaan van hier weer afwaarts beweeg.”
In antwoord op ’n vraag hoe boere in die komende seisoen hoë insetkoste moet hanteer, het Vorster gesê boerdery bly ’n dobbelspel met baie veranderlikes waaraan ’n boer baie min kan doen, maar die klem moet op volhoubaarheid bly. “As jou vertekpunt is om volgende jaar weer te plant, maak jy eerstens eerder seker daarvan as om noodwendig teen die hoogste prys vas te maak.”
Hy het boere ook gemaan om altyd op die hoogte te bly van die berekeninge oor hul inkomste en uitgawe. “Jy moet weet wat die faktore is waarop jy wins en verlies gaan maak. Ons kyk uit vir die verkeerde soort gevaar, ons moet klem lê op wat ons doen. Dit is nie die ANC wat jou grond gaan vat nie, dit is jou buurman as hy ’n beter boer as jy is.”
Aanplantings
Die afgelope seisoen is gekenmerk deur groot prysskommelinge met die oorlog tussen Rusland en Oekraïne wat ’n wesenlike impak op die landbou-omgewing gehad het, het dr. Werner Rossouw, direkteur en handelaar van Silostrat, gesê. Hy het in sy aanbieding oor vooruitsigte vir die mieliemark in die komende seisoen gesê die laer voorraadvlakke in Amerika behoort pryse relatief sterk te hou op kort en mediumtermyn. Wanneer pryse egter hoër is, plant meer boere mielies. “Verhoogde internasionale produksie kan pryse van middel 2023 af onder druk plaas.”
Plaaslik word verwag dat mielie-aanplantings kan daal tot ’n vlak van 2,4-2,5 miljoen ha omdat meer boere sojabone gaan aanplant. “Tesame met ’n ondergemiddelde oordragvoorraad behoort die plaaslike pryse weg te beweeg van uitvoerpariteitsvlakke.”
Volgens Rossouw behoort boere ondanks hoë insetkoste steeds ’n winsgewende seisoen te hê as die weer saamspeel. “Pryse sal na verwagting steeds genoeg fluktueer om vir kopers én verkopers van mielies voldoende geleenthede te bied om prysvlakke doeltreffend te verskans.”
Mnr. Schalk Brits, lid van Rassie Erasmus se seëvierende Wêreldbekerrugbyspan in 2019 en deesdae ’n sake-ontwikkelingsbestuurder in die korporatiewe wêreld, het gesê as deel van die Springbokspan het hy geleer hoe belangrik dit is dat mense werklik na mekaar luister. “Ons het in daardie span geleer om empatie met mekaar te hê en om werklik na mekaar se stories te luister.”
Hy het ook vertel hoeveel beter rugbyspelers presteer as hulle deel van klubs is waar daar werklik na hulle as mense omgesien word, en nie net op prestasie klem gelê word nie. Dit is ’n bestuurswysheid wat in sy tyd as rugbyspeler ál meer ontwikkel het. Dit maak spelers baie lojaal teenoor klubs wat dit nastreef.
“Dit is iets wat ek meen die korporatiewe wêreld by rugby kan leer. Ons het soveel gereedskap om prestasie in die korporatiewe omgewing te meet, maar ons het nie baie dinge ontwikkel waarmee ons goeie menseverhoudings meet nie. Om jou werknemers goed te behandel, is nie ’n luukse nie, dit maak eenvoudig goeie sakesin.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.