Die ledetal van die Volstruisbesigheidskamer (VBK) het gedaal en die bedryf wag desperaat om vleis uit te voer.
Luidens ’n berig op News24.com sê mnr. Piet Kleyn, waarnemende hoof van die VBK: “Dit (die ledetal) het die laaste paar maande aansienlik gedaal, met die Europese Unie (EU) se verbod op uitvoer as die hoofrede, aangesien dit (die bedryf) nie meer winsgewend is nie.”
Die VBK het begin verlede jaar 741 lede gehad, maar dit het drasties gedaal sedert die H5N2-voëlgriepvirus in April verlede jaar in die Klein-Karoo uitgebreek het.
'n Afvaardiging van die Europese Unie het die plaaslike bedryf vroeër vanjaar besoek, en sekere voorstelle vir die verbetering van die bedryf gemaak. Kleyn sê die Regering het glo aangedui dat hy om die opheffing van die verbod aansoek sal doen sodra dié voorstelle gereed is. Die virus het in Februarie vanjaar laas voorgekom.
Help nou
Volgens die aanbevelings moet alle boere in die bedryf hul ondernemings en boerderye herregistreer en aan sekere standaarde voldoen. Kleyn sê dié proses kan tot ’n jaar duur en die bedryf het nóú ’n inkomste nodig.
“Kom ons kry maniere om hulle nou te laat uitvoer, andersins sal die bedryf in duie stort,” aldus Kleyn. “Ons het ’n situasie waar alle (volstruis) boere in die uitvoermark vir sowat ’n jaar lank nie ’n inkomste gehad het nie. Hulle sukkel om te oorleef en moet meer kapitaal belê om in staat te wees om uit te voer.”
Sowat 40 000 volstruise is sedert die uitbreking van die siekte verlede jaar van kant gemaak. Die Klein-Karoo-vallei verskaf jaarliks sowat 90% van sy volstruisvleis aan die EU, met sowat 250 000 diere wat jaarliks vir vleis, vere en leer geslag word.
Bron: News24.com
3 Mei 2012