
Nóg ’n terugslag het die volstruisbedryf getref ná die voorkoms van die H7N1-voëlgriep-virus op twee plase in die Oos-Kaap bevestig is.
Mnr. Diggy Ogilvie, voorsitter van die Aberdeen-boerevereniging, sê ’n gebied van 10 kilometer buite die dorp is onder kwarantyn geplaas. Die twee plase is in dié distrik en die uitslae van toetse wat op ’n derde plaas gedoen is, word dié week verwag.
Volgens Ogilvie is sowat 900 volstruise van die twee plase Vrydag en Saterdag doodgemaak. Hy sê dit is tans onduidelik presies hoeveel diere in die distrik van kant gemaak sal moet word.
Lae patogeen
Mnr. Piet Kleyn, waarnemende hoof uitvoerende beampte van die Volstruisbesigheidskamer (VBK), sê die H7N1-virus is ’n laepatogeen-vorm van die virus. Dit beteken dat die kans dat die virus maklik na hoenders sal versprei, laag is.
Voor dié uitbreking is sowat 50 000 volstruise al sedert April verlede jaar weens die voorkoms van die H5N2-virus in die land van kant gemaak. Altesame 7 500 volstruise moes verlede maand van kant gemaak word ná `n uitbreking op drie plase in die Wes-Kaap bevestig is. Dié plase is naby Heidelberg en Albertinia geleë.
Dié bedryf, wat sedert verlede jaar bloei, het voor die uitbrekings gehoop om by die Europese Unie aansoek te doen om die herstel van sy uitvoerstatus.