
Na afloop van die Wes-Kaapse departement van landbou se volstruisinligtingsdag op 14 Maart by sy navorsingsplaas op Oudtshoorn, is 103 van 105 broeivolstruise by sy veiling van die hand gesit. Dit was die dertiende produksieveiling van sy soort en die volstruise is teen ’n gemiddelde prys van R3 558 verkoop.
“Die hoogste prys wat vir ’n twee-jaar-oue wyfie betaal is, was R5 500. Die jong mannetjies het gemiddeld R4 000 gehaal,” lui ’n mediaverklaring van die departement. Mnr. Joey Potgieter van Oudtshoorn het die meeste volstruise aangekoop en mnr. Jurie Klue van Klaarstroom het die hoogste prys vir ’n voël betaal.
“Die volstruise wat te koop aangebied is, is afkomstig uit die nageslag van die hulpbronkudde op die navorsingsplaas. Die kudde word primêr vir navorsing onderhou, en het oor die jare ’n groot bydrae tot kennis aangaande die wetenskaplike teelt van volstruise gemaak. Met volledige data vir reproduksie, groei, slageienskappe sowel as veerproduksie en -gehalte is die kudde enig in sy soort in die wêreld,” sê die departement.