Die uitvoer van plaaslike volstruisvleis na die EU is wéér verbied, skaars ‘n week nadat ‘n vorige verbod opgehef is.
Mnr. Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou, sê dié tydelike verbod is ingestel ná ‘n positiewe toets vir die H5-virus op ‘n plaas in die Mosselbaai-omgewing. Die departement doen verdere toetse in ‘n omtrek van 10 km om die betrokke plaas.
Van Rensburg sê die volstruisbedryf het tot dusver ‘n moeilike jaar agtr die rug. Alle uitvoere na die EU is sedert April gekanselleer, toe die eerste voorval plaasgevind het. Meer as 34 000 volstruise moes reeds in die groter Oudtshoorn-gebied geslag word.
Die EU het ‘n aansoek om hersonering deur die volstruisbedryf aanvaar, waarvolgens uitvoer van vleis op 10 Oktober uit alle gebiede behalwe dié van Oudtshoorn, sou kon hervat.
Die nuwe voorkoms van die virus beteken dat ‘n nuwe verbod van drie maande ingestel is op die uitvoer van alle volstruisvleis na die EU.
17 Oktober 2011