Die Appèlhof het bevind dat die Suid-Afrikaanse Regering nie verantwoordelik gehou kan word vir mnr. Crawford von Abo, ’n Suid-Afrikaanse boer wat weens grondhervorming in Zimbabwe alles verloor het nie.
Luidens ’n berig op News24.com het die Appèlhof ’n vorige bevinding deur die Gautengse Hooggeregshof ter syde gestel en gesê dié hof het foute gemaak in sy uitspraak.
Die Hooggeregshof het verlede jaar bevind dat die staat verantwoordelik gehou moet word vir Von Abo se verliese in Zimbabwe, wat 14 plase en al die infrastruktuur en masjienerie wat op die plase was, ingesluit het.
50 jaar
Von Abo het oor ’n tydperk van 50 jaar sy boerdery op die plase opgebou, maar hy is sonder ’n sent gelaat nadat hy die plase weens grondbesettings verloor het.
Die Appèlhof het bevind dat hoewel die Suid-Afrikaanse Regering se reaksie op Von Abo se versoek om beskerming en hulp nie van pas was nie, kan die Regering nie vir finansiële vergoeding verantwoordelik gehou word nie.
Sedert 2008 het Von Abo die Suid-Afrikaanse Regering probeer kry om diplomatieke stappe te doen vir die ontkenning van sy regte in Zimbabwe.
Bron: News24.com
5 April 2011