
Mnr. Willie van Aarde (67), wat in 1989 as Landbouskrywers SA se Suid-Afrikaanse Boer van die Jaar bekroon is, is in sy huis in Paul Roux in die Vrystaat oorlede.
Van Aarde het vir baie jare lank met 'n oorgeplante hart geleef. Hy het sy nuwe hart op 10 Januarie 1993 ontvang en het dus bykans 'n kwarteeu daarmee oorleef.
Willie het by Paul Roux geboer toe hy as Boer van die Jaar aangewys is. Hy het toe reeds aan hartversaking gely en kon later nie meer met sy boerdery voortgaan nie. Hy is op 'n waglys vir 'n skenkerhart geplaas. Die oorplanting van die nuwe hart het letterlik nuwe lewe in dié boer geblaas.
Sy vrou, Emmerenzia, sê Willie het op 2 Augustus geval en sy heup gebreek, vermoedelik toe hy weer 'n hartaanval gehad het. “Iemand met 'n oorgeplante hart ervaar nie pyn wanneer 'n hartaanval gebeur nie. Hy het moontlik nóg 'n aanval in die hospitaal gehad. Sy hart was te swak vir 'n operasie aan sy heup,” sê sy.
Hy is na twee weke in die hospitaal op Paul Roux en in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein terug huis toe waar hy sy laaste dae saam met sy gesin wou deurbring. Hy is op 27 Augustus in sy slaap oorlede.
Hy laat sy vrou en drie kinders, Gisela, Jason en Marika, agter. Die begrafnisdiens is Saterdag in die NG Kerk Paul Roux.