
Die hoeveelheid entstof vir bloutong, drie-dae-stywesiekte en brucellose is kommerwekkend min, blyk uit ’n opname deur Landbouweekblad by 35 handelstakke in die Afgri Town&Country en Senwes Village-groep oor hul entstofvoorrade.
Uit die opname het slegs 15 uit die 35 handelstakke wel bloutong-entstof beskikbaar gehad. (Sien aanhangsel hieronder.)
Daar blyk ook ’n kwessie met die verspreiding van bloutong-entstof te wees nadat die datums op groot hoeveelhede van die tipe entstof verval het en nuwe dosisse verkry moet word.
Nóg ’n groot bron van kommer is die gebrek aan entstof teen drie-dae-stywesiekte. Hierdie entstof word slegs deur Onderstepoort Biologiese Produkte vervaardig. Daar was verlede jaar reeds ’n landwye tekort aan dié entstof.
Slegs twee van die takke wat Landbouweekblad gekontak het, het entstof teen drie-dae-stywesiekte gehad. Uit dié twee was een se voorraad voldoende; die ander een het slegs twee dosisse gehad.
Brucellose-bom
Die brucellose-bom waaroor voorheen berig is, blyk ook al hoe nader aan barspunt te wees nadat al hoe minder entstof teen dié siekte beskikbaar gestel is. Slegs 11 takke het brucellose-entstof beskikbaar gehad.
“Desperate boere bied selfs aan om van die Stam 19-entstof, waarvan die datum verval het, aan te koop,” het een vloerbestuurder gesê.
Daar was ook beduidend meer aankope van entstowwe wat deur private maatskappye vervaardig word, met 27 takke wat MSD Dieregesondheid se entstof teen knopvelsiekte, Lumpyvax, in voorraad gehad het, teenoor drie takke wat OBP se entstof teen knopvelsiekte sowel as Lumpyvax aangehou het.
Slegs een tak het net OBP se entstof teen knopvelsiekte beskikbaar gehad, terwyl vyf takke geen entstowwe teen knopvelsiekte gehad het nie. Hierdie takke het egter reeds bestellings vir Lumpyvax entstof geplaas.
Kostedoeltreffend
’n Takbestuurder het gesê dat die tak eerder sy knopvelsiekte-entstof van MSD Dieregesondheid bestel as van OBP af.
“Private maatskappye se verspreiding is net soveel beter. Ons kan ’n bestelling plaas en die volle hoeveelheid entstof sal binne drie dae in ons yskaste wees. Dit is ook vir ons meer kostedoeltreffend om met ’n private maatskappy sake te doen.”
Die verskillende takke hou genoeg antibiotika en medisyne, soos Terramycin en Berenil, aan vir siektes, soos hartwater, Afrika-rooiwater en Asiatiese rooiwater. Entstowwe, soos Multivax en Supervax, teen sponssiekte, lamsiekte en pasteurella, is ook geredelik beskikbaar. Dié entstowwe word almal deur private maatskappye vervaardig.
Intussen sê die bedryfsafdeling van OBP in sy jaarverslag, wat pas in die Parlement ter tafel gelê is, hy is vol vertroue daar sal voldoende entstowwe wees om die mark volgende jaar te voorsien. Die maatskappy sê produksieprobleme sal binnekort iets van die verlede wees met die opgradering van sy geriewe wat voortstoom.