’n Pa-en-seun-span van die dorre Noord-Kaap en ’n deeltydse Vrystaatse boer is onderskeidelik as Voermol se Nasionale Skaap- en Beesboer vir 2011 aangewys.
Dié eer het op mnre. Sarel en Charl Saunderson van die Nooitgedacht-Dorperstoetery in die distrik Kenhardt, en Gerrit van Zyl van die Straussfontein-Bonsmarastoetery in die distrik Dewetsdorp geval.
Die wenners het onder meer elk ’n kontantprys van R25 000 van die borge BKB en Eerste Nasionale Bank losgeslaan.
Veldbestuurstelsel
Van Zyl is onder meer geloof vir die toepassing van sy veldbestuurstelsel waarvolgens hy die dravermoë van sy grond al met 30% bo die norm van die omgewing verhoog het.
Hy volg ook ’n bepaalde reproduksieprogram met ’n betreklik kort dektydperk vir sy verse en beoordeel sy beesproduksie ingevolge ’n sonderlinge doeltreffendheidsmaatstaf, die globale winsindeks, wat hy ontwikkel het.
Deeglike weiveldbestuur
Die Saundersons spog onder meer met ’n speenpersentasie van 142,7 wat getuig van hul doeltreffende reproduksiebestuur in ’n gebied met ’n lae jaarlikse gemiddelde reënval van 132 mm.
Deeglike weiveldbestuur word toegepas om die veld se drakrag te verbeter. Vrugbaarheid, aanpasbaarheid en moedereienskappe is van die bepaalde seleksiedoelwitte wat hulle nastreef.
Die land se voorste bees- en skaapboere vir 2011 wat op die jaarlikse aanwysingsplegtigheid van Voermol in Bloemfontein vereer is. Van links is: mnre. Charl en Sarel Saunderson (Nasionale Skaapboere van die jaar), Wolf Edmayr (besturende direkteur: BKB), dr. Jasper Coetzee (tegniese direkteur: Voermol), Jan de Jong (landboubestuurder: ENB), Gerrit van Zyl (Nasionale Beesboer van die jaar) en Hugo Lochner (redakteur: Landbouweekblad). Foto: Johan Norval
24 November 2011