Die Rooibosteeboer van die Jaar het planne gemaak om sy werkers by die boerdery te betrek, rekordhouding tot voordeel van sy boerdery in te span en by nuwe standaarde vir omgewingsvolhoubaarheid aan te pas.
Mnr. Willie Nel van die plaas Ysterfontein, wat in Oktober as Rooibos Bpk. se boer van die jaar aangewys is, se arbeidspraktyke gaan redelik teen algemene praktyke in. Synde nie ’n “yster-man” te wees nie, word ál sy rooibos nog met die hand gesny. Boonop het hy ’n werkergroep gestig om te verseker dat sy werknemers groter finansiële voordeel uit die boerdery put.
“Ek wil hê my werkers moet deel voel van die boerdery, verstaan waaroor dit in die landbou gaan en hoe wisselvallig dit kan wees,” het Nel op Rooibos Bpk. se boeredag op sy plaas gesê. “Die werkers verstaan reeds die verband tussen hul salarisse en die prys wat ons vir ons tee kry.”
Rekords as hulpmiddels
Aangesien rooibostee die grootste vertakking op sy plaas is en hy tot 270 hektaar per jaar wil aanplant, het hy in 1996 begin om die geskiedenis van elke teeland aan te teken en dié rekords as diagnostiese hulpmiddels te gebruik.
Hy moniteer veral die opbrengste wat elke land en fase waarin die teeplantasie is, lewer, aangesien dit een van die min goed is wat hy in ’n mate kan beïnvloed. Daarom stel hy ook dele van sy plaas beskikbaar vir navorsing.
Mnr. Johan Brand, tegniese bestuurder van Rooibos Bpk., sê die manier hoe Nel sy werkers by die boerdery betrek en bemagtig en ook die manier waarop hy die hoë omgewingstandaarde wat aan rooibosboere gestel word, benader en daaraan voldoen, het die deurslag gegee tydens die beoordeling.
22 Desember 2011