
Cameron is gister deur vyf lede van die polisie se eenheid vir openbare polisiëring uit ’n vergadering tussen Cele en die gemeenskap van Gugulethu en Nyanga in Kaapstad verwyder nadat Cameron die minister warm onder die kraag gemaak het met sy vrae. Cele het Cameron gedurende die vergadering herhaaldelik beveel om stil te bly en ook gesê dat hy nie gaan luister na iemand wat hom “steeds as ’n tuinjong beskou nie”.
Cameron sê dit is eerstens kommerwekkend dat ’n minister van polisie so reageer en dat ’n “bende van uitsmyters in uniform” hom dan boonop uit die vergadering verwyder het net omdat hy feite genoem het. “Dit sê vir jou hier is ’n ernstige probleem met politieke inmenging met polisiëring en hier is ’n wesenlike probleem met leierskap. Hoe kan ons verwag om misdaad op grondvlak te bekamp as dit die tipe leierskap is wat ons het?”
‘Verwaande tentoonstelling’
Hy sê dit is baie ironies dat iemand glo op dieselfde tydstip as die voorval sowat ’n kilometer van die gemeenskapsaal gekaap is, terwyl 30 tot 40 polisiebeamptes by die saal teenwoordig was.
Hy sê dieselfde kommer geld landelike veiligheid. “ ’n Mens het spesialiskennis vir spesifieke kwessies nodig. Op hierdie stadium word van stasievlakbeamptes wat redelik yl gesaai is en min ervaring het, verwag om hierdie probleme op te los.
“Ek dink die situasie gaan al hoe erger word. Ons het ’n reuseprobleem wat vir ons voorlê. Dit is belangrik dat gemeenskappe hulself sover as moontlik organiseer teen misdaad. Mense moet hulself waar moontlik laat oplei en by veiligheidsorganisasies betrokke raak.”
Mnr. Gillion Bosman, DA-LP, sê Cele se “uitbarsting” was nie net ’n poging om verantwoordbaarheid te vermy nie, maar ook ’n aanduiding van watter tipe leier hy is en sy onvermoë om gemeenskappe veilig te hou.
“Ons veroordeel Cele se uittrap van Cameron nadat hy regverdige kwessies uitgelig het wat te doen het met die toewysing van die polisie se hulpbronne in die Wes-Kaap. Dit was nog ’n verwaande tentoonstelling van die minister se minagting vir samewerking om die veiligheid van Suid-Afrikaanse gemeenskappe te verseker.”
Bosman sê die vergadering is nie die eerste in sy soort wat Cele gereël het nie. Terwyl hierdie tipe vergadering in die gees van samewerking gehou word, is die Wes-Kaapse regering en die Stad Kaapstad egter nie na gister se vergadering genooi nie. “Pleks daarvan het die minister verkies om nadat hy in sy uitgebreide konvooi daar aangekom het, die vergadering in politieke teater te laat ontaard.”
Bosman sê die DA in die Wes-Kaap het al herhaaldelik uitgelig dat polisiëring in die provinsie ’n gebrek aan finansiering en kapasiteit het. “Cele het nou regtig die spoor byster geraak en sy tirade dien as verdere bewys dat hy eenvoudig nie besorg is oor ’n oplossing vir die geweld wat ons gemeenskappe teister nie.”
Cele verloor beheer oor homself, polisiëring en misdaad
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, beskou Cele se gedrag as onaanvaarbaar en skandalig. Hy sê dit is ’n aanduiding dat Cele beheer verloor oor nie net homself nie, maar ook die polisie en die bestryding van misdaad.
“Ongeag van die feit of daar moeilike of ongemaklike vrae gestel word, moet veral ’n minister van polisie gedissiplineerd kan optree, juis om ’n voorbeeld te stel oor hoe in sekere situasies opgetree moet word. Cele is nie net aan die mense van Guguletu en aan Cameron ’n verskoning verskuldig nie, maar ook aan die mense van Suid-Afrika.”
Groenewald sê hy sal toesien dat die voorval deur die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie bespreek word. “Hierdie gedrag van ’n minister wat beheer verloor voor ’n gemeenskap waar misdaad ernstig aangepak moet word, kan nie geduld word nie.”
* Cameron het vandag (7 Julie) klagtes van crimen injuria en aanranding teen die polisie by die Gugulethu-polisiestasie aanhangig gemaak.