
Behoorlike meganismes vir prysvasstelling, beleid wat belegging aanmoedig, ondersteunende infrastruktuur en die vermoë om oor handelskwessies te onderhandel is voorvereistes vir 'n groeiende kommersiële landbousektor.
As prysvasstelling nie deursigtig is nie, kan daar nie intelligente beleggingsbesluite geneem word nie, het mnr. Brienne van der Walt, besturende hoof van Absa Landboubesigheid, by die BFAP-bekendstelling op Somerset-Wes gesê.
Hy sê daar is soveel geleenthede vir Afrika-landbou, maar die vraag is of ons dit gaan aangryp of laat verbygaan. Die rede waarom ander Afrika-lande nie sulke sterk kommersiële landbousektore het soos Suid-Afrika nie, is omdat daar 'n gebrek aan prysvasstellingsmeganismes of inmenging in prysvasstelling is. "Dis kritiek vir private beleggings in die landbou en mense moet onthou privaatgeld is die slim geld."
Hy sê regerings probeer dikwels om verbruikerspryse laag te hou en hy betwyfel nie hul goeie bedoelinge daarmee nie, maar die gewoonte om dikwels die uitvoer van landbouprodukte te staak, het tot gevolg dat kommersiële boere nie in sulke lande wil belê nie. Die regte beleid is ook baie belangrik en dit gaan nie net daaroor dat bates veilig moet wees nie, maar ook dat daar wetlike sekerheid wees, met ander woorde, beleggers moet in staat wees om hul belegging te onttrek.
Van der Walt het gesê 'n swak onderhandelingsvermoë by die Wêreldhandelsorganisasie kan lande ook aan die kortste ent laat trek. "Ons gaan in die toekoms al hoe meer sien dat lande nie-tariefbeperkings, soos nou met swartvleksiekte op sitrus by die Europese Unie, instel, en onthou, daardie onderhandelinge kan net tussen regerings gedoen word. Dit word dus ongelooflik belangrik dat regerings van Afrika-lande die kundigheid en vaardigheid ontwikkel om daar te onderhandel."
Hy het gesê ander faktore wat ook die ontwikkeling van kommersiële landbou beperk, is gefragmenteerde grondbesitstelsels en 'n gebrek aan politieke wil om vennootskappe tussen kommersiële boere en kleinboere te ondersteun. Die toekoms van Afrika moet nie net ekonomies en ekologies volhoubaar wees nie, maar ook op maatskaplike gebied. Deur vennootskappe kan kleinboere meer verdien as op hul eie."
Hy sê dit is belangrik vir die privaatsektor om die inligting wat BFAP versamel, te gebruik om geleenthede en beleidsdooiepunte te ontsluit. As dit nie gebeur nie, sal Afrika-regerings ander bronne van buitelandse valuta moet vind om voedselinvoer te finansier.