Groot onduidelikheid heers oor ‘n voorval waartydens ‘n boer van KwaZulu-Natal glo deur die Polisie doodgeskiet is.
Mnr. Koos Marais, hoof van Kwanalu se veiligheidskomitee, sê hy is nie seker wat tydens die voorval Donderdag (20 Januarie) gebeur het nie. “Al waarop ons tans kan staat maak is dit wat die Polisie sê. Een ding is seker, eers as die Onafhanklike Klagtedirektoraat betrokke raak en die voorval ondersoek, sal die werklike feite bepaal kan word. Die nadoodse ondersoek sal ook dinge duideliker kan maak,” aldus Marais.
Die voorval
Intussen berig Nuus24.com die 54-jarige mnr. Kobus de Vries is op sy plaas in die Babanango-distrik dood nadat ‘n skietgeveg tussen hom en die Polisie glo plaasgevind het.
De Vries het na bewering sy vrou vier ure voor die voorval by die King Shaka-lughawe gaan aflaai. Oppad terug het hy glo in ‘n onderonsie met Eskom en polisiebeamptes betrokke geraak. Luidens die berig het De Vries glo met haas op die plaas aangekom en sy plaaswerkers beveel om die Polisie nie toegang tot die plaaswerf te gee nie.
Die Polisie het die huis omsingel, en ‘n plaaswerker gevra om De Vries te oorreed om uit sy huis te kom, glo met die voorwaarde dat hulle hom nie sal skiet nie. Hy het uitgekom, glo met ‘n wapen in sy hand, waarna die Polisie vermoedelik op hom losgebrand het.
Hy is na bewering in die rug en skouer gewond. De Vries se familie het ‘n privaatspeurder en ‘n pateloog aangestel om ook die voorval te ondersoek.
Bron: Nuus24.com
24 Januarie 2011