
Die oopstel van die Suid-Afrikaanse mieliemark vir Amerikaanse GM-mielies gaan ons mieliepryse laat val, en terselfdertyd die internasionale speelveld verder ongelyk vir plaaslike mielieprodusente maak.
Dít is die algemene gevoel oor die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se aankondiging dat ’n lys GM-tipes, van beide geel en wit mielies wat voorheen nie vir invoer uit Amerika goedgekeur was nie, nou dié kommoditeitsklaring gekry het. Dit is slegs vir invoer as voedsel, voer en vir verwerking, en nie om plaaslik kommersieel geplant te word nie.
Die invloed van hierdie besluit op plaaslike produsentepryse is veral van onmiddellike belang vir Suid-Afrikaanse boere wie se reserwes deur die afgelope rekorddroogte uitgeput is, en wat op die nuwe seisoen en goeie pryse staat maak om finansieel weer te kan asem skep.
Mnr. Jannie de Villiers, hoof van die bedryfsorganisasie Graan SA, het in reaksie gesê daar is oorgenoeg mielievoorraad (vir invoer) in die wêreld, en enige goedkeuring van GM-tipes wat nie vir aanplanting aan Suid-Afrikaanse boere beskikbaar is nie, hulle op ’n ongelyke voet plaas.
Hy sê handelaars het vroeër bevestig dat hulle reeds genoeg wit mielies elders bekom het om in die heersende bemarkingsjaar (2016/’17) se voorsiene plaaslike tekort te kan voorsien. “As daar geen ander mielies as dié van die VSA beskikbaar was nie, sou ons die druk vanaf verhandelaars en kopers verstaan nie, maar om die Amerikaanse boere ’n binnebaan te gee, lyk onregverdig.”
De Villiers verduidelik dat die VSA normaalweg die eerste land is waar nuwe GM-tegnologie geregistreer word. Hulle doen dan aansoek om goedkeuring vir die uitvoer van hierdie tipes na ander lande. As dit nie in die ander lande vir algemene vrygestelling geregistreer word nie, beteken dit ons plaaslike produsente ding op ’n ongelyke speelveld teen die VSA-boere mee, gegewe die tegnologiese ontwikkeling.
Boonop het Amerikaanse boere nie net toegang tot beter tegnologie nie, maar hulle ontvang ook reusagtige regeringsubsidies. De Villiers voeg by dat die rekorddroogte nie as ’n nasionale ramp verklaar is nie. Uit ’n ekonomiese oogpunt bly Suid-Afrikaanse produsente dus op ’n ongelyke voet as kommoditeitsklarings toegestaan word sonder dat die uitwerking daarvan op plaaslike produksie in ag geneem word.
“Kommoditeitsklaring behoort slegs in buitengewone omstandighede toegestaan te word, en nooit die norm te word nie. In die geval van ekstreme toestande, soos ’n bedreiging van ons nasionale voedselsekuriteitstatus en as Suid-Afrika as ’n rampgebied verklaar sou wees, kan kommoditeitsklaring met spesiale invoer-voorwaardes toegestaan word,” sê hy.
Mnr. Dirk Kok, woordvoerder van die SA Vereniging van Graan- en Oliesaadhandelaars (Sacota), sê in sy reaksie die goedkeuring gáán plaaslike mieliepryse laat daal. Hy skryf prysdalings op die Safex-beurs sedert die goedkeuring algemeen bekend geword het, hieraan toe.
Teen die begin van Desember het Suid-Afrika se totale mielie-invoer vir die eerste sewe maande van die bemarkingsjaar op 1,634 miljoen ton gestaan. Hiervan was amper 596 000 ton wit mielies en amper 1,039 miljoen ton geel mielies. Dit beteken sowat 30% van die voorsiene jaar-totaal vir wit mielies moet nog ingevoer word, en 44% van die verwagte geelmielie-invoertotaal.
- Dié berig is deur Marleen Smith en Carien Kruger saamgestel.