
Met sy groeiende bevolking, sowel as groter wordende middelklas, sal Suid-Afrika altyd ‘n netto-invoerder van vleis bly, skryf Boetman van Namibië.
Boetman het kommentaar gelewer op die berig: Lewende hawe uit Namibië bly brandpunt, op Landbou.com.
Hy sê indien Suid-Afrika vee nie van buurlande, soos Namibië, kan verkry nie, sal klaarverwerkte vleis van lande soos Argentinië, Brasilië, Australië, ens. bekom moét word. Dit sal ‘n nadelige uitwerking hê op rodusentepryse in die RSA en ook op die winsgewendheid van Suid-Afrika se voerkrale. Laasgenoemde is by verre die grootste voorsiener van kwaliteitgraad beesvleis in Suid-Afrika.
Hy sê dit is nogal ironies dat Suid-Afrika die genoemde streng maatreëls teen Namibië wil instel, dit terwyl Namibië reeds die afgelope 40 jaar beesvleis uitvoer na die Europese Unie en Skandinawiese lande, aanvanklik onder die Lomé-konvensie en wel onder baie streng internasionale kwaliteit-, gesondheid- en veesiekteprotokolle.
“Streng oudits word jaarliks deur onder meer EU-veeartse in Namibië uitgevoer by abattoirs, op plase asook by veeartsenykantore, sowel as by die onderskeie grensposte. Op plase word bedryfsisteme, dieremedisyne en siekregisters, veelekke, dierehantering asook arbeidsvehouding en -behuising deur hulle inspekteer.”
In Namibië is die toediening van groeihormone by diere verbode en word daarvoor ook gemonitor.
Die vleisbedryf in Namibië is vir die afgelope 24 jaar, internasionaal gesertifiseerd t.o.v. HACCP, ISO, EFSIS. Vanjaar het Namibië ook die "SADC Exporter of the Year"-toekenning verkry wat die totale waardeketting van die bedryf inagneem.
Namibië beskik reeds die afgelope 14 jaar oor ‘n internasionaal erkende terugspoorbaarheidsisteem (FANMEAT) waar vleis vanaf die verbruiker tot op die plaas van oorsprong, teruggespoor kan word.
Bykans vir 50 jare het nog geen bek-en-klou-uitbraak in die boerderygebiede van Namibië, wes van die Caprivi, voorgekom nie. Suid-Afrika beskik self NIE oor bogenoemde status nie en is dit dus baie vreemd dat hy sulke hoë voorwaardes t.o.v. van vee-invoer stel!
Boetman skryf hy vertrou dat die mense wat dié besluit moet neem, tot hulle sinne kom, want so ‘n besluit kan ‘ n rimpeleffek op boerdery in al twee lande hê.