Meer as ’n week nadat diere positief getoets het vir bek-en-klouseer net noord van die beheersone wat in 2019 in Limpopo ingestel is om die uitbreking van dié siekte hok te slaan, is daar nog geen aankondiging deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in dié verband nie.
Veeboere in die kommunale gebied in die ooste van Vhembe, waar die siek diere geïdentifiseer is, is gewaarsku om nie hul diere te verskuif nie en ’n inspeksie- en inentingsveldtog is glo in die omgewing begin.
Mnr. Gerhard Schutte, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum en hoofbestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie, is teen 14 Maart nog nie van die voorvalle in kennis gestel nie.