Vrae bestaan oor veeartsenykunde toelatingsvereistes by Onderstepoort ná ‘n student met goeie punte nie gekeur is nie.
AfriForum het dié geval onlangs aan die media bekend gemaak te midde van die verskyning van verskeie berigte oor die kommer van die voortbestaan van dié beroep en ‘n tekort aan veeartse, veral in landelike gebiede.
Die organisasie het ‘n versoek aan die Universiteit van Pretoria gerig om sogenaamde verskuilde kriteria oor die toelating van studente by die Fakulteit van Veeartsenykunde openbaar te maak. Dít volg nadat me. Kiara Haylock, met ‘n gemiddeld van 92%, op grond van akademiese prestasie, nie toelating tot die kursus gekry het nie.
Twee maande
Volgens die organisasie het me. Tammy Haylock, Kiara se moeder, AfriForum genader omdat sy meer inligting vereis oor hoekom haar kind nie toelating gekry het nie. Hulle wil ook weet aan watter bykomende kriteria studente gemeet word, sodat daar nie teen enige student gediskrimineer word nie.
Kiara het in matriek sewe onderskeidings behaal, en sy was aanvanklik onder die indruk dat sy toelating verkry het, omdat sy ‘n verwelkomingsbrief van die universiteit ontvang het. Twee maande later is sy egter per sms ingelig dat sy nie keuring vir die kursus gekry het nie.
Demografie
Mnr. Charl Oberholser, voorsitter vir AfriForum Jeug, sê volgens die universiteit se webtuiste sal studente gewerf word om die land se demografie te weerspieël. “Demografie word gebruik om leerlinge van geleenthede te ontneem, want die regering plaas geweldige druk op UP om swart veeartse te lewer, al is dit ook ten koste van ander studente.”
Die organisasie wil met behulp van hulle aansoek vasstel of die universiteit slegs amptelike kriteria gebruik om te bepaal watter studente tot die fakulteit toegelaat word.
Intussen sê die universiteit in ‘n antwoord aan Landbou.com omdat die fakulteit die enigste van soort in die land is, rus ‘n spesiale verantwoordelikheid op die universiteit om seker te maak alle groepe van alle geografiese areas word bedien.
Toelatingsvereistes
Die fakulteit sê hy het sy toelatingsvereistes só ontwerp dat dit studente van verskillende kategorieë toegang kan gee. Die kategorieë is: Skoolverlaters, studente wat oor vorige universiteitsblootstelling beskik, studente wat deur die polisie of weermag genomineer word en ‘n beperkte aantal internasionale studente.
“Dit is inderdaad so dat die fakulteit 'n aantal plekke reserveer vir studente van aangewese groepe. Die betrokke praktyk is nie eie aan die Fakulteit Veeartsenykunde nie. Soortgelyke reëlings word ook aangetref by onder andere die Fakulteit Gesondheidswetenskappe,” aldus die UP.
Die universiteit wou wel nie inligting rakende Haylock se saak aan die media beskikbaar maak nie, maar hy sê dat dit reeds met haar ma bespreek is.
4 November 2011