Sedert die TLU SA besoek in Europa afgelê het om inligting oor plaasmoorde in Suid-Afrika uit te deel, volg toenemende internasionale media-navrae.
Luidens ‘n TLU SA-verklaring het die internasionale en sosiale media kennis geneem van dié situasie. Die organisasie sê sy hoofkantoor ontvang al hoe meer inligting van beoogde optredes oor plaas- en volksmoorde in Europa, Amerika, Kanada en Australië.
Mnr. Henk van de Graaf, assistent-hoofbestuurder: kommunikasie van die unie, het ‘n week lank deur Europa gereis waar hy onder andere hoofspreker tydens ‘n openbare vergadering van Europese parlementslede was.
Van de Graaf het ‘n klagte van volksmoord teen die Suid-Afrikaanse Regering by die Internasionale Strafhof in Den Haag ingehandig.
Situasie in SA ‘meer benard as in Zimbabwe’
Van de Graaf het in sy toespraak aan die parlementslede uitgewys dat die situasie in Suid-Afrika selfs meer benard as dié in Zimbabwe is. “In Suid-Afrika is tot dusver 1 554 boere vermoor, teenoor die 24 in Zimbabwe.”
Hy sê aangesien die Europese Unie al bereid was om sanksies teen pres. Robert Mugabe in te stel - weens die situasie met grondgrype en armoede in Zimbabwe - kan die feit dat Suid-Afrika se boere erger daaraan toe is, dieselfde aksie teen die Regering tot gevolg hê.
“In die lig daarvan dat sake in Suid-Afrika selfs slegter verloop as in Zimbabwe, behoort die EU dalk oorweging te skenk aan die moontlikheid om soortgelyke persoonlike sanksies teen mnr. Jacob Zuma en sy Kabinetslede in te stel, omdat hulle ook blatant weier om genoeg aan hierdie probleem te doen. Bowendien behoort plaasmoorde internasionaal verklaar te word tot ’n misdaad teen die mensdom,” aldus Van de Graaf.
9 Februarie 2012