
Onbevestigde berigte is dat hierdie jongste blokkades weer aangedryf is deur sekere groepe Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders wat oënskynlik beswaar maak teen die voortgesette plaaslike indiensneming van buitelandse burgers as vragmotorbestuurders en teen vinnig stygende brandstofkoste.
Boodskappe wat die ronde op sosiale media gedoen het, en vermoedelik afkomstig is van nasionale en provinsiale polisieleiers, het aangedui dat hierdie vragmotorblokkades hoofsaaklik op dele van die N2, N3 en N11 voorgekom het.
Mnr. Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri Noordwes, sê die grootste vragmotorblokkade in Noordwes was by die distrik Bloemhof. Die N12 gaan deur Bloemhof. Vragmotors het hierdie en ander paaie in daardie omgewing versper.
Hy sê sulke blokkades veroorsaak onmiddellik en deurlopend probleme vir Suid-Afrika se landbouwaardeketting. Dit sluit in honderde vragmotors wat vars produkte, vleis, melk, graan en vee vervoer wat tot stilstand kom en dan die risiko loop dat voedselprodukte bederf of vee ly; boere wat nie noodsaaklike produksie-insette kan ontvang nie; en wetsgehoorsame vragmotorbestuurders wat dae aaneen gestrand is in koue weer en met beperkte of geen kos, water en sanitasie.
“Dit is uiters teleurstellend en kommerwekkend dat die polisie en ander wetstoepassers onwillig is dringend en doeltreffend op te tree. In ons gebied sê die polisie die departement van vervoer en die departement van arbeid moet die probleem oplos. Boere wil nie betrokke raak nie, want ons wil nie hê sake moet vererger nie.”
Hy sê die duur en ontwrigtende uitwerking van sulke vragmotorblokkades sluit in dat landbouverwerkers en kleinhandelaars nie meer voorraad ontvang nie, voedsel- en veselvoorrade aan verbruikers word beperk of onbeskikbaar en uitvoerlogistiek vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte tot stilstand kom. Op sy beurt neem die risiko van werksverliese oor die hele landbouwaarde- en logistieke kettings toe.
“Die polisie doen nie wat hy veronderstel is om te doen nie. Ons vermoed dat daar iemand is wat inmeng met die polisie se vermoë om behoorlik op te tree. Die organiseerders van hierdie vragmotorblokkades moet ander maniere volg om hul arbeids- en vervoergriewe uit die weg te ruim sonder om openbare paaie te versper,” sê Pienaar.
Mnr. Freddie van Tonder, hoof van veiligheid by die KwaZulu-Natalse landbou-unie (Kwanalu), sê ’n groot probleem is dat die polisie dit blykbaar tot op die laaste nippertjie laat voordat hulle op hierdie vragmotorblokkades reageer.
“Ek het gehoor dat sowat R50 miljoen vir die Suid-Afrikaanse ekonomie verlore gaan vir elke uur wat die land se logistieke ketting stilstaan.”
In ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa skryf mnr. Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die Padvragvereniging, dat Suid-Afrika se ekonomie gesaboteer word deur die feit dat die land se hele logistieke voorsieningsketting word aangeval deur magte onder die voorwendsel dat buitelandse burgers werk van burgers wegneem.
“Hierdie blokkades kan nie voortgaan nie. Ons sal handel en besigheid na en deur Suid-Afrika verloor. Meneer die President, waaroor gaan dit regtig? Buiten die ekonomiese sabotasie en totale vernietiging van Suid-Afrika is daar die ooglopende bedoeling om te bewys dat die beheer van die land en sy ekonomie nou by bendes berus.”
Hy skryf hoewel Ramaphosa en sy kabinetslede belowe het om Suid-Afrika en sy mense te verdedig en ’n beter lewe vir almal te verseker, het hulle nou “daardie vertroue gebreek”.
“Tree nou op of ons sal geen land oor hê nie,” skryf hy.