
Luidens ’n berig in Volksblad het Mamiki Qabathe, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, gesê die omstrede Vrede-suiwelprojek het reeds 100 werkgeleenthede geskep en begin om melkprodukte, soos kaas en gepasteuriseerde melk, te vervaardig.
Die projek word nou deur die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie (VOK) bestuur, het sy gesê. Dis nie bekendgemaak hoeveel geld in die huidige boekjaar aan die projek toegeken is nie.
Qabathe het gesê haar departement sal voortgaan om nuwelingboere te ondersteun. Roy Jankielsohn, DA-LW, het gesê die Regering moet vennootskappe skep tussen kommersiële en nuwelingboere om vaardighede en kapasiteitsondersteuning oor te dra.