
In teenstelling met die algemene opvatting dat Escherichia coli die organisme is wat verantwoordelik is vir die siektetoestand in lammers, dit in werklikheid die mikroskopiese parasiet Cryptosporidium is wat tot die vrektes lei.
Só het dr. Maryke Henton, vooraanstaande bakterioloog verbonde aan Vet Diagnostix, tydens die Herkouersveterinêre Vereniging (Ruvasa) se kongres gesê.
“Cryptosporidium, 'n verlangse familielid van Coccidia, beskadig die lam se spysverteringstelsel. Die letsels wat gevorm word, word dan deur e.coli as opportunistiese organisme betrek. E.coli is dan in die diarree teenwoordig wat die indruk wek dat dit die verantwoordelike bakterie is.”
Dr. Henton het gesê cryptosporidium is 'n uiters weerstandige organisme wat voorkom waar rioolbesoedeling plaasvind of waar droogtetoestande tot 'n konsentrasie van die organisme in beskikbare waterbronne lei.
“Die enigste manier om van die organisme ontslae te raak is om die water vir twee minute lank te kook. Dit is dus uiters moeilik om te behandel omdat bestaande middels in Suid-Afrika beperkte sukses teen die organisme het,” het Henton gesê.
Hou biosekuriteit, immuuniteit hoog
Dr. Liezel Wasserman, 'n veearts van Clocolan, waar die aanvanklike uitbreking vyf jaar gelede aangeteken is, sê deur lammers se immuunstelsel te verhoog, kan vrektes beperk word.
“Lammers en kalwers moet vier keer 'n jaar 'n mulitvitamien-mineraalaanvulling kry. Op hierdie manier word vitamien A en D en selenium aangevul. Veral selenium is 'n uiters belangrike komponent om te verseker dat kalwers en lammer se immuniteit versterk word omdat dit die dier help om te oorleef, selfs al word hulle siek.
"Hierdie strategie moet natuurlik in samewerking met 'n volledige biosekuriteitsplan aangewend word om vrektes te beperk,” het sy gesê.