
Die aanstelling van dr. Vuyo Mahlati as voorsitter van die African Farmers’ Association of SA (Afasa), is onlangs by ‘n dinee naby Pretoria bekend gemaak.
Mahlati neem die leisels oor by mnr. Mike Mlengana, wat nou direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye is.
Dr. Mahlati is in die Oos-Kaap gebore en getoë en het opleiding aan 'n plaasskool en 'n sendingskool ondergaan voordat sy haar B.Sc-graad aan die Universiteit van die Wes-Kaap voltooi het. Sy het 'n M.Sc-graad in maatskaplike beleid en beplanning aan die London School of Economics behaal, en daarna 'n doktorsgraad aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar spesialisveld is die landbou-waardeketting, en waardetoevoeging in die landbou.
'Bestuurder van verandering'
In haar toespraak het Mahlati aan boere gesê sy sien haarself as 'n bestuurder van verandering. "Ons het gefaal met positiewe transformasie in Suid-Afrika, en moet ons dit oplos. As ons dit verkeerd kry, kry ons dit verkeerd vir toekomstige geslagte. ”
Afasa se nuwe voorsitter is daartoe verbind om met die sakewêreld saam te werk om die gaping tussen swart en wit, oud en jonk, mans en vroue, te oorbrug.
"Ons verantwoordelikheid gaan verder as grondhervorming, ons verantwoordelikheid is om te verseker dat die landbou die middelpunt van die herlewing van die ekonomie is. Ons moet dit sien as iets meer as voedselsekuriteit," het Mahlati gesê. "Ek is 'n vrou, wat glo dit moet gedoen word."
Hieronder: Dr. Vuyo Mahlati praat met media by die Uniegebou ná 'n optog deur Afasa- en Nerpo-lede om 'n versoekskrif aan die Regering te oorhandig. Video: Carien Kruger
https://youtu.be/kfosXtE_OQs