
Die Wes-Kaapse Plaaswerker van die Jaar-kompetisie is goed op dreef en Witzenberg is die eerste streek om wenners aan te wys. Me. Mpho Makhathane van die plaas Bronaar is die eerste Xhosa-sprekende wat as die algehele wenner aangewys is.
Makhathane het Witzenberg in 2007 as ’n vrywillige werker vanaf die Oos-Kaap besoek en ’n behoefte aan gesondheids- en sosiale werkers op plase raakgesien. Sy het dit genoem aan van die rolspelers in die area en die jaar daarna die eerste gesondheidswerker onder plaaswerkers in die area geword. “Ek het basies my eie pos geïnisieer,” vertel sy trots.
Haar werk sluit in die identifikasie van emosionele, sosiale en gesondheidsprobleme en die verwysing van werkers na instansies waar hulle kan hulp kry. Sy werk ook by die kliniek, doen berading en rig ’n koor af. Sy glo dat daar ’n sterk verband tussen fisieke en emosionele gesondheid en produktiwiteit is.
Sy het die streekbeoordeling stresvol gevind: “Kompetisie is straf en die beoordelaars vra baie moeilike vrae. Vrae wat jou laat introspeksie doen en jou rol in die landbou laat herevalueer.”
Me. Joy van Biljon, koördineerder van die kompetisie in die Witzenberg, sê dat hulle vanjaar aansienlik meer inskrywings as verlede jaar ontvang het. Die verspreiding van inskrywings was ook baie beter: "In die verlede het die Koue-Bokkeveld die kompetisie gedomineer, maar vanjaar was daar ook heelwat inskrywings van Wolseley en Tulbagh.”
Volgens Van Biljon was die kompetisie baie straf en die meeste beoordelaars meen dat die kandidate selfs beter as verlede jaar s’n was.
Volgens haar is Makhatane die eerste Xhosa-sprekende om as ’n algehele wenner aangewys te word. “Makhatane is ’n sterk kandidaat wat uitsonderlike werk op plase doen.”
• 'n Totale pryswaarde van R100 000, wat 'n oorsese reis, R20 000 kontant en insluiting in die minister se Prestige Plaaswerkerforum insluit, is op die spel vir die wenner van die Wes-Kaapse Plaaswerker van die Jaar. Dié kompetisie, met sy toekenningsgeleentheid in November, word deur die Departement van Landbou Wes-Kaap aangebied en die prysgeld word deur Shoprite geborg.