
Die vrugtebedryf hou asem op oor moontlike probleme wat in aanloop tot die verkiesing van plaaslike regerings in Augustus kan kop uitsteek.
Volgens mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape, die grootste appel- en peerbemarker in Suid-Afrika, het daar in die verlede dikwels faksieprobleme en protesaksie in die tydperk voor verkiesings uitgebreek.
“Ons hoop nie die Wes-Kaapse landboubedryf word beïnvloed deur pogings om oor die kort termyn politieke punte te wen nie. Die bedryf dra elke jaar meer as R6 miljard tot die ekonomie by.” Meer as 15 200 mense en hul gesinne maak ’n lewe uit die bedryf.
Die sektor het op die oomblik wisselkoerstabiliteit broodnodig, meen hy.
Britse pond, veldtogte maak sake moeilik
Hoewel Brittanje se besluit om die Europese Unie te verlaat nie onmiddellike gevaarligte vir hulle laat flikker nie, is die verswakking van die Pond slegte nuus. Al Tru-Cape se produsente in die Ceres- en Grabouw-omgewing het klaar geoes.
“Dit wat ons gewen het as gevolg van die swakker rand in die eerste deel van die seisoen was van korte duur. Ons produksiekoste is in dollars en ons het wisselkoerstabiliteit nodig, teen watter vlak ookal.”
Maar met die verkiesing in sig meen hulle dis onwaarskynlik dat die wisselkoers gaan stabiliseer. “Ons verwag volatiliteit,” sê Pienaar. Kleiner vrugte en probleme met gehalte – hoofsaaklik weens die hoë somertemperature – het boere opdraende gegee. “Ons kon ’n huis en bevredigende waardes vir die kleiner vrugte kry,” sê Pienaar, wat aanvanklik besorg was hieroor. Ons moes heelwat hiervan na die Verenigde Koninkryk en die plaaslike mark geskuif.”
Britse supermarkte se veldtog om verbruikers aan te moedig om eerder Engelse produkte te koop, het boonop die plaaslike appel en peermark ’n effense knou gegee. “Die veldtogte gebeur nog al die jare, maar die kleinhandelaars was vanjaar meer gerat daarvoor.
Hulle wou ’n trots Britsegevoel oordra en van die kleinhandelaars het Engelse vlaggies op hul verpakkings aangebring.” Pienaar sê ondanks die feit dat die Britse appel en peervoorraad vanjaar sowat 10% meer is, hoop hulle om die invloed van die Britse veldtogte teë te werk deur ’n bietjie langer in die mark vrugte te bemark.
Afrika raak weer aantreklik
Geleenthede in Afrika, danksy die olieprys, behoort ook te help om die markkreukels uit te stryk. “Die olieprys het deur die $50kerf (sowat R715) gebreek, wat beteken dat uitvoere na Afrika, veral Nigerië, besig is om kop op te tel. Golden Delicious bly die topverkoper-appelkultivar in Wes-Afrika.
Dis duideliker as ooit tevore dat ons genoeg volumes in dié mark moet hê voor die Ramadantydperk,” sê Pienaar. Volgens hom neem hulle ook in Asië waar dat mense die appelvoorrade voor Ramadan opkoop. Tydens Ramadan neem die vraag aansienlik af.