Vrugte SA se nuwe etiese handelsprogram vir alle belanghebbendes in die vrugtebedryf slaan ’n bres vir die ontwikkeling en welstand van alle plaaswerkers in dié bedryf.
Mnr. Derek Donkin, voorsitter van Vrugte SA, sê boere, uitvoerders, handelaars, die Regering, arbeidsverteenwoordigers asook plaaslike én internasionale kleinhandelaars het in Johannesburg bymekaargekom om die etiese handelsprogram van stapel te stuur.
“Die program gaan oor die belanghebbendes in die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf wat beleid en praktyke ontwikkel vir die voortdurende verbetering van werkers op vrugteplase,” sê Donkin.
Progressiewe arbeidswetgewing
Die program is gegrond op Suid-Afrika se progressiewe arbeidswetgewing en dit steun onder meer op internasionale riglyne vir beste praktyke in ouditmetodes en derdeparty-ouditeurs.
Die program sal die ontwikkeling van opleidingsmateriaal en ander hulpmiddels bevorder om die bewuswording en verbetering van arbeidspraktyke te verhoog. Vrugte SA verteenwoordig boere en uitvoerders met ’n uitvoerwaarde van R20 miljard jaarliks en verskaf werk aan meer as 200 000 mense.
24 Oktober 2011