
Verskepingsmaatskappye het hul rekeninge vir verlede jaar se stakingsverliese aan vrugteprodusente gestuur, sê die Varsprodukte-uitvoerdersforum.
Mnr. Stuart Symington, hoof uitvoerende beampte, sê die maatskappye het dié rekeninge aan hulle gestuur in plaas daarvan om dit te stuur na Transnet, wie se werknemers die probleem veroorsaak het.
“Hulle wou ons dwing om die koste van sowat R100 miljoen te dra deur te sê indien ons nie betaal nie, hulle nie ons produkte, wat toe al weke lank in die hawens wag, gaan uitvoer nie. Die rekeninge het binne 48 uur ingestroom. Dus het ons besluit om ’n saak by die Mededingingskommissie aanhangig te maak. Die saak word tans ondersoek,” aldus Symington.
Volgens me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het die staking die landboubedryf R1 miljard gekos.
Hulp
Intussen sê Symington hulle wil alle rolspelers in die bedryf vra om die bedryf by te staan tydens die openbare proses oor beplande stygings in verskepingskoste.
’n Styging van 18,6% word beoog, en Symington sê die bedryf kan eenvoudig nié so ’n hoë styging bekostig nie. “ ’n Openbare proses gaan plaasvind en ons vra alle landboubedrywe om ons by te staan deur dit teen te staan.”
Volgens Symington is ’n groot probleem in dié verband dat lande in die Europese Unie en Amerika dié verhogings sal kan hanteer. “Maar tussen daardie twee wêrelddele verskaf hul regerings jaarliks sowat $100 miljoen in subsidies aan hul boere, terwyl ons boere niks ontvang nie!”
Statebond
Symington moedig ander bedrywe in die sektor aan om deel te word van die Statebond. “Ons betaal jaarliks ledegeld, maar dit is gewis die moeite werd. Hulle het ons al gehelp om die bedryf op verskillende vlakke te beskerm.”
Die beskerming wat die Statebond bied, is onder meer teen verskaffers wat die produsente te lae pryse wou aanbied, pryse laat weergegee het, dubbele standaarde ten opsigte van aankope wou toepas en die instelling van rabatte.
’n Toename word tans in die gebruik van nuwe kultivars van vrugte ondervind, vertel Symington. Hy sê hulle het die afgelope paar jaar gesien dat baie nuwe variëteite die mark betree.
“Daar is ’n duidelike neiging dat verbruikers voortdurend op soek is na nuwe ondervindings wat vrugte betref. Ons verwag dus ’n verdere toename.”
14 September 2011