
Verskeie organisasies in die sagtevrugtebedryf het onderneem om die benarde posisie van bye in Suid-Afrika aan te roer en hul voortbestaan te help verseker.
Die SA Appel- en Peerprodusentevereniging en die Steenvrugprodusentevereniging, wat beide onder die Hortgro-sambreel val, het ’n handves tydens Hortgro Science se tegniese simposium op Simondium bekend gestel. Hiervolgens sal vrugteboere hul onkruiddoder-toedieningspraktyke en -middels in heroënskou moet neem.
Mnr. Nelson de la Querra, verteenwoordiger van die Wes-Kaapse Byebedryfsvereniging, het die handves as ’n deurbraak bestempel en gesê dis die resultaat van drie tot vier jaar se onderhandelings.
Heuningby drasties minder
Kommer heers wêreldwyd oor heuningby-bevolkings wat drasties afneem. Vrese bestaan selfs dat die spesies kan uitsterf. Van 50% tot 80% van die wêreld se voedselvoorraad (vrugte, groente en sade) is regstreeks of nie-regstreeks afhanklik van bestuiwing deur heuningbye.
Volgens De la Querra, wat ook die Klapmutskop-byeboerdery naby Stellenbosch bedryf, hou Amerikaanse vuilbroedsiekte, veldbrande en vandalisme die grootste bedreigings vir bye in die Wes-Kaap in. Hy meen byeboere in die provinsie verloor tussen 25% en 30% van hul swerms elke jaar weens dié faktore.
“Die afgelope vier jaar het byeboere in die Wes-Kaap slegs 30% tot 50% van hul heuningoeste uitgehaal weens die groot invloed van die droogte. Bye het water, nektar en stuifmeel nodig en as een daarvan ontbreek, is dit ’n probleem.”
Bessiebedryf groei
Byeboere slaag nie meer daarin om hul swerms met 5-10% per jaar te vergroot nie. De la Querra sê teen die spoed waartoe bessieboerdery in die Wes-Kaap uitbrei, twyfel hy of daar oor vyf tot tien jaar genoeg bye gaan wees om in boere se behoeftes te voorsien.
Volgens die handves het produsente onderneem om nie onkruiddoders te spuit wanneer bye aktief is nie. “Duisende bye word jaarliks doodgespuit weens die onoordeelkundige gebruik van chemiese stowwe. Dit affekteer die hele kolonie.”
Instruksies op middels
Chemiese verteenwoordigers het onderneem om duidelike instruksies oor die toediening van middels op produkverpakkings aan te bring. Dit sal ook aandui of die middels nadelig is vir bye, verduidelik De la Querra.
Die byebedryf het van sy kant af belowe om swerms in te bring wat op standaard is en by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye geregistreer is. Elke korf se registrasienommer sal daarop verskyn. Die korwe sal voldoen aan bestuiwingstandaarde wat aanvaarbaar is vir vrugteboere.
Mnr. Hugh Campbell, Hortgro Science se algemene bestuurder, sê produksiekapasiteit sal in die slag bly sonder bye. “Dis strategies belangrik om bye te beskerm. Die handves bied ’n raamwerk sodat ons kan verseker ons het ’n volhoubare byebevolking in die Suid-Afrikaanse konteks.”