
Duurder koste om boorde te vestig en die gesogtheid van die groter Ceres-gebied vir vrugteverbouing het grondpryse hier die laaste vyf jaar drasties laat styg.
Mnr. Gerrit van Vuuren van Joubert Van Vuuren Prokureurs sê gemiddelde hektaarpryse vir vrugteboorde het van R200 000 per hektaar tot R350 000 en meer per hektaar toegeneem.
Boordgrond met water het ook van R100 000/ha tot R150 000/ha tot R200 000/ha gestyg.
Die Ceresvallei, Koue Bokkeveld, Witzenbergvallei, Wolseley, Breërivier en Tulbagh is deel van die Witzenberg-gebied, wat volgens Van Vuuren die voorste produksiegebied vir appels, pere, nektariens en perskes in Suid-Afrika is.
Uie en aartappels word ook op groot skaal hier verbou.
Van Vuuren sê Joubert Van Vuuren Prokureurs het op versoek van kliënte by die verkryging van landbou-eiendomme en omsigtigheidsondersoeke in verband daarmee betrokke geraak.
Hy sê plase in die omgewing wat goeie pryse behaal het, was gekenmerk deur boorde met gesogte appel- en peervariëteite, goeie omsette en 'n netjiese infrastruktuur.
“In ander gevalle was die ligging, soos hoogte bo seespieël, goeie koue-eenhede en potensiaal van beplantbare vrugte- en groentegrond met water, deurslaggewend. Die ouderdom van boorde speel deesdae ook 'n belangrike rol weens die vraag na nuwe vrugtevariëteite vir die uitvoermark.”
Van Vuuren sê drie vrugteplase in Tulbagh en Ceres is onlangs onderskeidelik teen R12 miljoen, R11,9 miljoen en R45 miljoen verkoop. Dié bedrae het ook die komende oeste en roerende bates ingesluit.