
Sowat 65 boere en plaaswerkers is by die landdroshof in die Paarl byeen om ondersteuning te bied aan die twee boere van die distrik wat vandag om borgtog aansoek te doen ná ’n skietvoorval verlede week. Die polisie is ook by die hof teenwoordig, maar geen onluste word verwag nie.
Die twee boere, mnre. JT Basson, ’n oud-Springbokroeier en eienaar van die Salem-boerdery, en John Woest word daarvan beskuldig dat hulle mnr. Chatwell Rogers, ’n onwettige vrugteverkoper, verlede week na bewering in die gebied tussen die Sonstraalbrug en die N1 in die Paarl doodgeskiet het. Hulle doen vandag aansoek om borgtog, en die uitslag word na middagete verwag.
Kapt. Frederick Van Wyk, polisiewoordvoerder, het luidens ’n vroeëre verklaring gesê Rogers is met ’n haelgeweer in die rug geskiet terwyl hy en ander vermeende onwettige vrugteverkopers van Basson en Woest gevlug het. Hy is op die toneel oorlede. Volgens Van Wyk het die twee boere hulself op die toneel aan die polisie oorgegee.
Mnr. Francois de Manielle, ’n boer van die Paarl, het aan Landbou.com gesê met hul saamtrek wil hulle ook die publiek bewus maak van die misdaadsituasie op hulle plase weens vrugtediefstal. “Ons wil die publiek bewus maak van waarmee ons elke dag gekonfronteer word op ons plase. Letterlik elke dag.”
Volgens De Manielle het e.tv-nuus al in 2017 onderhoude in die gebied gedoen oor die vrugtediefstal en die feit dat die owerhede niks daaraan doen nie.
In ’n video verduidelik De Manielle aan Johan van der Merwe van Landbou.com dat die diefstal die hele gemeenskap raak, en dat die misdadigers ook plaaswerkers en kinders in die omgewing raak.
Gemeenskap in die steek gelaat
Agri Wes-Kaap sê in ’n verklaring die plaaslike owerhede het dié gemeenskap in die steek gelaat wat die gespanne situasie rondom vrugtediefstal betref deur die verkoop van dié vrugte nie ernstig op te neem en daaraan aandag te gee nie.
Mnr. Uys van der Westhuizen, voorsitter van Agri Wes-Kaap se landelike veiligheidsbeleidskomitee, sê die owerhede is al talle kere oor die situasie genader. “ ’n Vergadering was hieroor gehou, maar ooglopend is dit nie ernstig opgeneem nie. Verskeie geskeduleerde opvolgvergaderings het nie gerealiseer nie omdat amptenare nie beskikbaar was nie. Die plaaslike owerheid moet verantwoordelikheid aanvaar.”
Agri Wes-Kaap het plaaslike owerhede reeds voor die voorval verlede week vir ’n vergadering op 13 Desember genader, wat hopelik die erns van die saak sal beklemtoon, en hulle die verreikende implikasies sal laat besef.
Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê dit is ’n tragiese voorval. “Ons medelye gaan uit na die gesin van die oorledene. Agri Wes-Kaap vra plaaslike owerhede en die betrokke belanghebbendes om in te tree om soortgelyke voorvalle te voorkom. Ons vra vir kalmte en vir die reg om sy gang te gaan.”
*Landbou.com is kort voor 16h00 vanmiddag ingelig dat borgtog toegestaan is aan mnre. JT Basson en John Woest. Hulle is elk op R5000 borgtog vrygelaat en die saak is uitgestel tot 26 Januarie.