
Op dieselfde plaas waar mnr. Chatwell Rogers einde November doodgeskiet is en die kollig laat val het op die voortslepende vrugtediefstalprobleem, het ’n onderonsie vroeg vanoggend tussen vermeende vrugtediefstalbendes uitgebreek en is een van die bendelede doodgesteek.
Volgens mnr. Reinhardt von Nieuwenhuizen, raadslid vir wyk 28 van die Drakenstein-munisipaliteit, het vrugtediewe vroeg in die oggendure slaags geraak op dieselfde plaas waar Rogers op 30 November doodgeskiet is. ’n Onderonsie, blykbaar oor watter bende die reg het om in dié spesifieke plek vrugte te steel, het op ’n messtekery uitgeloop. Een van die faksies het in die boord gesterf.
Mnre. John Woest en Jan (JT) Basson is borgtog toegestaan na Rogers se dood.
Volgens mnr. Francois de Manielle, ’n boer van die omgewing, is hierdie tragedie ’n voortsetting van die wetteloosheid wat by die dag erger word.
“Ons boerevereniging het op 13 Desember ’n goeie vergadering met Agri Wes-Kaap en die munisipale wetstoepassers gehad. Die polisie was ongelukkig nie teenwoordig nie. Daar is nietemin ooreengekom dat wetstoepassing ’n vredesbeampte op die paaie en Sontraalbrug sal plaas, waar die meeste onwettige verkope plaasvind. Dit behoort reeds ’n groot verskil te maak. Ons het ander oplossings bespreek, en as dit suksesvol ingestel kan word, sal ons vordering maak.”
Teen 16 Desember was daar steeds geen wetstoepassingsbeampte op die Sonstraalbrug nie.
Maatskaplike leemte
Die swak maatskaplike situasie in Amstelhof, die buurt waarvan die meeste van die vrugtediewe kom, is steeds ’n groot kommer vir De Manielle.
“Mnr. Danny Arendse, wat verbonde was aan die NG gemeente Drakenstein asook die ander kerke in die ring, het uitstekende werk in daardie gemeenskap gedoen. Hy het opheffingswerk onder kinders en volwassenes gedoen, sopkombuise aangebied en gereeld uitstappies vir die gemeenskap gereël.
“Hy is egter in Junie vanjaar aan covid-19-verwante oorsake oorlede en laat ’n enorme leemte. Daar is nie hoop in daardie gemeenskap nie. Die dwelms is ’n tydelike uitkoms van die hopeloosheid vir baie mense. Die dwelmverslaafdheid lei dan tot misdaad. Dit is noodsaaklik dat ons veral die kinders uit daardie omstandighede uitlig. In die Drakenstein-gemeente beraam ons planne om die leemte te vul wat Arendse se dood laat.”
Volgens lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, sê teen Vrydagmiddag 17 Desember is niemand in hegtenis geneem nie. Traut het bevestig dat die liggaam van ’n 30-jarige man wat aan meswonde omgekom het, op 15 Desember omstreeks 23:00 op ’n plaas in Denneboomstraat in die Paarl gevind is. Die saak word ondersoek.