Boere op Vryheid het by mnr. Nathi Mthethwa, die Minister van Polisie, gekla dat die SAPS op die dorp “lui en korrup” is. Luidens ’n berig op News24.com het Mthethwa die gebied op Sondag 10 April 2011 besoek.
Dié klagtes het Mthethwa genoop om tydens sy besoek polisielede wat hulle aan dié optrede skuldig maak, te waarsku dat “hul dae in die SAPD min is”, aldus mnr. Zweli Mnisi, Mthethwa se woordvoerder.
Meer polisiekantore
Mthethwa het teenoor die boeregemeenskap opgemerk dat dit onregverdig is dat mense in landelike gebied lang afstande moet aflê om misdaad aan te meld, derhalwe het hy versoek dat meer polisiekantore in gebiede soos Vryheid opgerig moet word.
Volgens Mnisi het boere en plaaswerkers hulle daartoe verbind om die Polisie by te staan om misdaad te bekamp. Die Minister het die omgewing besoek om veediefstal en misdaad oor die algemeen met die gemeenskap te bespreek.
Bron: News24.com
11 April 2011