
Die landbougemeenskap in die Noordwes-Vrystaat het gemiddeld 70% gewasverliese gely weens onlangse stortreën en oorstromings oor dele van die provinsie wat voedselsekerheid daar kan bedreig, sê dr. Jack Armour, handelsbestuurder van Vrystaat Landbou.
Dít volg uit ’n voorlopige assessering deur boere in die provinsie om die skade te bepaal ten einde die provinsie tot rampgebied te laat verklaar. Sodoende sal rampverligting aan boere toegestaan word wat skade gely het. Die landbougemeenskap het vroeër vandeesweek met plaaslike munisipaliteite vergader om dié kwessie te bespreek.
Die provinsiale departement van landbou was veronderstel om die vergaderings by te woon, maar het nie by een van die vergaderings opgedaag nie, sê Armour. “Ons wag nog op die departement van landbou vir die amptelike vorms wat benodig word om ’n rampgebied te kan verklaar.”
Verliese
Ongeveer 30 tot 40 boere het die eerste vergadering bygewoon, en hulle het verliese van 20% tot 100% aangedui. “By Wesselsbron alleen strek die gemiddelde verliese van 70% oor sowat 100 000 ha.”
Die grootste probleem wat nou die boere in die gesig staar, is versekeringskoste en om te bepaal waarteen wel verseker kan word. Armour sê omdat versekeraars eers oor ’n “week of drie” die landerye en skade kan assesseer, is dit moeilik om die werklike skade nou te bepaal.