
Stormwinde het Woensdagmiddag bygedra tot reuseskade aan weiding in die omgewing van Petrus Steyn en Bethlehem in die Vrystaat.
Nagenoeg 11 500 hektaar en 2 500 bale voer het by Petrus Steyn in die slag gebly. Volgens die plaaslike veiligheidsverteenwoordiger, mnr. Sakkie Bosman, het die brand op munisipale grond ontstaan en toe oor die teerpad gespring, vanwaar dit oor plase versprei het.
“Een boer het 100 skape en party boere het al hul weiding verloor,” sê hy.
Wind en min vog
In die Bethlehem-omgewing is nagenoeg 1 000 hektaar weiveld vernietig, en een mielie- en sojaboer, mnr. Martin Esterhuizen van die plaas Juliana, het nagenoeg 140 ha en 90 bale verloor.
“Al my bale het afgebrand en die lande wat ek nog moet wei, het afgebrand – ek het niks weiding oor nie so ek sal moet voer,” sê hy.
Volgens mnr. Charl Genis, voorsitter van die Bethlehemse brandvereniging, was daar geen beserings nie en is al die diere uit die vlamme gehou. 'n Versoek is aan die Working on Fire-span gestuur en die brand is spoedig onder beheer gebring.
Hy sê die winde is sterk en vogvlakke is laag, wat gewoonlik 'n goeie resep vir brande is. “Daar lê ’n lang pad vorentoe. As ons nie nou winterreënval kry nie, of ten minste lentereën, kan die bedreigings saam met ons wees tot in September,” sê hy.
Tussen Cornelia en Frankfort op die N1 het 'n ook groot brand gewoed en skade is oor 'n afstand van 43 km aangerig. Heelwat veld is beskadig, maar dit is tans nog nie bekend hoeveel weiding vernietig is nie.