
Die deure vir geldhulp vanaf die Regering se kant is hopelik geopen nadat die Vrystaatse provinsiale regering drie distrikte wat onlangs afgebrand het, tot provinsiale rampgebied verklaar het.
’n Beraamde 234 000 ha weiveld is in Augustus en September in weghol-brande in die distrikte van Maluti-a-Phofung, Dihlabeng en Mohokare verwoes. Premier Ace Magashule het dié brande pas met ’n kennisgewing in die provinsiale koerant tot ’n provinsiale ramp verklaar.
Dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou, het die afkondiging verwelkom, en gesê dit maak die deure vir geldhulp oop. Sover hy weet, is dit die eerste keer in etlike jare wat ’n gebied as provinsiale rampgebied verklaar word.
Mnr. Mafa Mokoaqo, woordvoerder van die Vrystaatse departement van landbou, het gesê ’n onafhanklike assessor word gewoonlik na ’n gebied gestuur om vas te stel of die skadebepaling korrek gedoen is. Eers dan sal die Regering hom verbind tot die omvang van hulp wat hy kan verleen.
Vroeër is berig dat ’n beraamde 300 000 ha al sedert die begin van die winter in veldbrande in die Vrystaat afgebrand het. Boere se verliese aan weiding, vee en infrastruktuur in die provinsie beloop reeds in die omgewing van R150 miljoen.
Marleen Smith