
Politieke retoriek veroorsaak polarisasie tussen die landboubedryf en die samelewing eerder as om samewerking te bevorder.
Dit is die reaksie van Vrystaat Landbou (VL) op die uitsprake van me. Mamiki Qabathe, LUR vir Landbou in die Vrystaat, in haar begrotingsrede in die provinsiale wetgewer.
VL het Qabathe se stellings om onder meer die skuld vir stadige grondoordrag voor die deur van landbouers te kom lê, verwerp. Sy beweer dat boere die pryse van grond opjaag as hulle hoor die staat wil dit koop en dat landbouers grond onproduktief maak om wildsplase te begin.
Qabathe het vroeër vanjaar landbouers op Bultfontein vir hulle harde werk as produsente bedank en hulle gerus gestel dat hulle nie vrese in hulself moet opwerk oor beleid en wetsontwerpe aangaande grond en die landbou nie.
Volgens mnr. Henk Vermeulen, hoofbestuurder van VL, sal die organisasie poog om binnekort met Qabathe te vergader om landboukwessies, maar ook die gebruik van byvoorbeeld meentgrond vir grondhervorming te bespreek. Nog ’n beoogde besprekingspunt gaan oor wanpersepsies oor die wildbedryf. Dié bedryf verdien jaarliks miljarde rande aan buitelandse valuta, skep werksgeleenthede en bied goedkoper vleis-opsies aan die land, sê hy.
Qabathe en haar span is genooi om VL se kongres op 6 en 7 Augustus in Bloemfontein by te woon.