
Die onlangse stortreën en donderstorms in die Noordwes-Vrystaat het groot skade op plase aangerig en die situasie kan voedselsekerheid bedreig.
Die VF Plus het luidens ’n verklaring ’n brief aan me. Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, gestuur om te versoek dat die gebiede wat grootskaalse skade gely het, tot rampgebiede verklaar word. Die party versoek dat rampverligting verleen word aan álle boere wat skade gely het, sê mnr. Armand Cloete van die VF Plus.
Cloete meen dat die provinsie dit nie kan bekostig om boere nie by te staan nie, omdat die landboubedryf se bydrae “te kosbaar” vir die provinsie en die res van Suid-Afrika is.
“As die premier ernstig is om voedselsekerheid in die Vrystaat te verseker, sal sy alles in haar vermoë doen om die provinsie se landbousektor by te staan en die nodige gebeurlikheidsplanne in werking te stel.”
As ’n rampgebied verklaar word, onderneem die VF Plus om ingevolge munisipale eiendomsbelastingswetgewing, die betrokke munisipaliteite te versoek om grondbelasting vir die betrokke boere vir ’n jaar op te skort, sê Cloete.
Luidens ’n brief wat die distriksmunisipaliteit Lejweleputswa aan belanghebbendes gestuur het, sal dié munisipaliteit saam met die provinsiale departement van landbou op 12 Januarie vergader met die landbougemeenskap van die Nala-munisipaliteit, waar erge oorstromings onlangs voorgekom.
Die vergadering sal vandag om 10:00 in die boereverenigingsaal in die distrik Wesselsbron plaasvind. Die munisipaliteit moedig die publiek aan om die vergadering by te woon, en hulle kan hul bywoning by 082 515 5593 bevestig.
Vrystaat Landbou en TLU SA het reeds verlede week versoeke gerig om ramphulp weens die storms in die Noordwes-Vrystaat.