
Die Vrystaatse polisiekommissaris het onderneem om met raadop veeboere in die distrik Heilbron te vergader oor veediefstal en ander misdaad wat dié boere teister.
Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het gereageer op 'n gesamentlike verklaring van die Vrystaatse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en Vrystaat Landbou vroeër vandeesweek wat ’n dringende beroep doen op beter polisiëringsinfrastruktuur om die ongebreidelde veediefstal en ander landelike misdaad in die distrik hok te slaan.
In die verklaring sê me. Isabel Kruger, voorsitter van die Vrystaatse veediefstalvoorkomingsforum, die polisie versuim op alle vlakke om doeltreffend te reageer op maande se versoeke deur die Heilbronse boere vir landelike misdaadvoorkomingsaksies. ’n Gebrek aan polisievoertuie, veral by die Heilbron-veediefstaleenheid, belemmer die ondersoek van sake.
Mnr. Tommie Esterhuyse, Heilbronse veeboer wat onlangs onder veediewe deurgeloop het, sê in die verklaring sommige boere daar het nou ’n “totale gebrek aan vertroue in die polisie se vermoëns” en doen nie meer die moeite om veediefstalsake aan te meld nie.
Mnr. André Kleynhans, nóg ’n slagoffer van veediefstal, sê in die verklaring die polisie daar is nie net baie traag om veediefstal te ondersoek nie, maar ook dat “sekere polisiebeamptes die pad voorberei vir misdadigers in die distrik”.
Mnr. John Keogh, voorsitter van die Heilbron-plaaswag, sê die polisie daag in baie gevalle glad nie by misdaadtonele op nie. Pogings om dié kwessies onder die aandag van senior polisielede in die Vrystaat te bring, maak geen verskil nie.
Reuseverliese
Luidens die verklaring is daar in 2020 altesaam 437 stuks vee by Heilbron gesteel, waarvan 217 teruggevind is. In 2021 is 984 stuks vee gesteel en 306 is teruggevind. Net van 1 Januarie tot 22 Maart vanjaar is 561 stuks vee gesteel, waarvan 120 teruggevind is.
Kruger sê daar was ’n toename in die gemiddelde aantal diere wat tydens ’n enkele veediefstalvoorval gebuit is.
“Die voorvalle en getalle is by die beheerkamer van die polisie op Heilbron. In 90% van die gevalle het die boere self die vee terugkry. ’n Aantal veediewe is onlangs op parool vrygelaat en hulle is dalk weer bedrywig.”
In die verklaring doen Vrystaat Landbou, die Vrystaat RPO en die boeregemeenskap van Heilbron gesamentlik ’n beroep op die polisie om hul infrastruktuur aktief aan te pas en uit te brei, ’n taakspan saam te stel om veediefstal te bekamp en te ondersoek, en om saam met die plaaslike boeregemeenskap te werk om die veediefstal doeltreffend te takel.
‘Diep bekommerd’
Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, sê Motswenyane het kennis geneem van die “ernstige bewerings” in die verklaring en is “diep bekommerd” daaroor. Die kommissaris doen ’n beroep op enigeen met bewyse om beëdigde verklarings af te lê wat die Vrystaatse polisiebestuur in staat sal stel om die bewerings te ondersoek.
“Ons gedragskode moet altyd nagekom word. Waar ’n polisielid die teendeel doen, moet ons sulke bewerings ondersoek. Ons sal ’n vergadering belê om aandag te gee aan die bekommernisse van die gemeenskap. Landelike veiligheid is ’n prioriteit vir die polisie en die vennootskap met boere om veediefstal in ons provinsie uit te roei, is vir ons van groot belang.”