
Dié eer het dr. Kobus Hendriks en sy vrou, Belinda, van die plaas Bronkhorstfontein, al 13 keer die afgelope klompie jare te beurt geval om as die provinsiale wenner van die Meestersuiwelboer-vereniging aangewys te word. Hulle Spitsvuur-Holsteinkudde sal later vanjaar teen die ander provinsiale wenners te staan kom om die land se beste melkboer aan te wys.
Hendriks, wat tans sowat 560 koeie in melk het, was onder meer ook al Landbouskrywers SA se nasionale Boer van die Jaar.
Hy sê die hedendaagse suiwelprodusent het verskeie uitdagings wat die hoof gebied moet word, soos skaalekonomie deur die getal koeie in melk te verhoog en hy moet ook sy kosteberekeninge haarfyn uitwerk.
“Jy moet weet wat is jou produksietkoste, dan kan jy die volgende oggend reeds weet wat is jou inkomste uit die melkproduksie,” sê hy. “Jy kan dan baie maklik jou marge bo voerkoste bepaal. Natuurlik lê die uitdaging daarin om elke ding 5% beter as die volgende ou te doen.”
Om ’n melkery suksesvol te bedryf, is dit volgens Hendriks nie nodig om uitsonderlike praktyke na te volg wat ander nie doen nie. “Jy moet alles wat jy in die melkery doen, net ’n klein bietjie beter doen as die res deur aan al die aspekte aandag te gee.”
Uitsonderlike praktyke
Een van die uitsonderlike praktyke wat die Hendrikse se Inovula-maatskappy sedert 1984 volg, is embrio-oorplasings in die kudde. Daardeur word hulle beste teelmateriaal vinnig vermenigvuldig, waardeur streng seleksie toegepas word.
Met behulp van die toepassing van die hedendaagse genomika word bepaal watter eienskappe dié geselekteerde diere met ’n herhaalbaarheid van 70% oordra. Daarna word die genomiese vroulike diere geselekteer en met die saad van die beste genomiese diere ter wêreld en uit hulle eie kudde gespoel.
Daardeur het die Spitsvuur-Holsteins die afgelope tyd geneties baie vinniger vooruitgegaan, sê hy. “Deur die seleksie van die regte dier vir ’n bepaalde omgewing, word die marge bo voerkoste opgestoot, aangesien dié diere geneties in staat is om die beste te reageer op die voer wat jy vir hulle voorsit,” sê Hendriks.
Hendriks het die suiwelbedryf in 1986 betree nadat hy jare lank ’n veearts op Kroonstad was. Hy was toe baie betrokke by embrio-oorplasings landwyd. Hy het ná die afsterwe van sy pa die familie-melkery oorgeneem.
Hy is deesdae net veearts op sy eie plaas en gee al sy aandag aan sy onderneming. Die Meestersuiwelboer-vereniging se naaswenner is mnr. Jacques Moll van Ficksburg, ’n voormalige provinsiale en nasionale wenner. In die derde plek is mnr. Frans Wolhuter van Magogongen en mnr. Jan Zim van die distrik Kestell is aangewys as die beste opkomende melkprodusent. Van links is mnr. Peter de Villiers, gasspreker en voormalige Springbok-afrigter, mev. Belinda Hendriks en haar man, dr. Kobus Hendriks, Vrystaatse Meestersuiwelboer, en mnr. Rampie de Wet, organiseerder van die kompetisie.