
’n Bejaarde Vrystaatse boer, mnr. Janse van Vuuren, is op sy plaas Nuwejaarsbos, tussen Odendaalsrus en Kroonstad, vermoor.
Vyf verdagtes het hom oorval toe hy masjiene by sy melkstal gaan afskakel het. Hulle het sy vuurwapen van hom afgeneem en hom daarmee doodgeskiet. Die verdagtes het met Van Vuuren se bakkie, selfone, kontant en vuurwapens gevlug. Die bakkie is verlate langs die pad gevind en die verdagtes is nog op vrye voet.
Mnr. Jan van Niekerk, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat, sê hierdie onsinnige moord kom in 'n tydperk dat die hele land in rep en roer is ná die moord op die kaptein van Bafana Bafana, Senzo Meyiwa. “Hierdie moorde is weer eens 'n bewys dat boewe geen respek vir die polisie en Regering het nie.”
Van Niekerk sê dat hy van die Regering verwag om hierdie onsinnige moord en verkragting ook so fel te kritiseer soos wat die geval was met die moord op Meyiwa. Daar word geëis dat daar ook 'n beloning op die inhegtenisneming van hierdie moordenaars geplaas sal word.