
As Suid-Afrika ’n sterk landboubedryf wil uitbou, moet die samestelling inklusief wees om die reënboognasie, veral vroue en jong mense, te verteenwoordig. Dit is die mening van me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. Sy het lede van die georganiseerde landbou en landbou-organisasies op ’n tweedaagse besoek aan Bloemfontein toegespreek. Dit maak deel uit van die besoek aan al nege provinsies ter voorbereiding van die presidensiële imbizo.
Didiza sê sy was nog nooit so gelief onder die land se boere soos tydens die covid-19-inperkingstyd nie. “Die landboubedryf het ten spyte van die talle probleme sedert 2020 net gedy en ek het nog nooit só baie oproepe met versoeke van boere sedert dié tyd ontvang nie.”
Didiza erken dat daar baie probleme is waarmee die boerderygemeenskappe te doen het, soos die vervalle padinfrastruktuur, die veiligheid van plattelandse mense en veediefstal. “Die oplossing hiervoor kan nie net voor die regering se deur gelê word nie, maar dit moet met die samewerking van die boere gedoen word.” Volgens haar is die oplossings nie vraaggedrewe nie, maar dit moet deur gesprekke tussen die partye bereik word.
Eerw. Otto Mbangula van die National African Farmers’ Union (Nafu), sê hy wil nie deur die staat voorgeskryf word oor wat vir die boer goed is, net omdat die regering die beursie beheer nie. Een van Nafu se grootste probleme, veral in die Xhariep-streek, is toegang tot besproeiingswater.
Die meeste afgevaardigdes het hulle met die strydpunte van Vrystaat Landbou se kommersiële boere vereenselwig.
Dr. Jack Armour, VL-bestuurshoof, het Didiza se begrip van hul probleme geloof, maar sê die toepassing van die staatsbeleid ontbreek in baie gevalle.
Hy betreur die feit dat die Vrystaat sy bek-en-klouseervrye status verloor het ná die positiewe geval in die distrik Viljoenskroon. “Die regering moet beslissend optree om die nodige beperkingsmaatreëls toe te pas en moet ook ontwikkelende boere help met die naspeurbaarheid van hul kuddes.”
Volgens Armour moet die Vrystaat hom nou al voorberei vir ’n volgende sprinkaanvlaag in September en die staat moet help met die beskikbaarstelling van gif en brandstof vir bestrydingspanne. Die wanaanwending van staatsgeld bring ook mee dat padinfrastruktuur nie in stand gehou word nie en dat daar sowat 30 padskrapers onbenut in die provinsie is.
Suid-Afrika se spoorverkeer moet opgeknap word vir die vervoer van erts en graan sodat mangaanvragte nie die paaie beskadig nie.
Ander probleme wat boere kniehalter, is die beskikbaarheid van data en bandwydte in landelike gebiede, ontbrekende munisipale dienste, probleme met strydende sambreelorganisasies wat die brandbeskermingsdiens bemoeilik, en ’n vereenvoudiging en uitbreiding van die dieselrabatstelel.
Me. Tankiso Morule, Vrystaatse voorsitter van die Afrika-boerevereniging van Suid-Afrika (Afasa), het van die probleme wat swart boere ervaar, uitgelig. Dit behels die verkryging van titelaktes, waterverskaffing soos boorgate, finansiering, toegang tot markte en veediefstal.
In ’n vergadering met dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en sakelui in Bloemfontein het gebrekkige infrastruktuur soos die padnetwerk nie baie aandag gekry nie.
Sakelui sukkel onder meer met die hersonering van eiendomsgebruik wat jare lank duur en wetgewing wat sakegroei beperk.