
Me. Rintie van Rensburg (59) en haar man, Ben (72), was Donderdagaand reeds aan die slaap toe hy rondom 23:45 ’n geraas in die huis gehoor het. Hy het ondersoek ingestel en op vyf gewapende verdagtes in die huis afgekom.
Volgens oa. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het die boer met een van die verdagtes gestoei en na sy vrou om hulp geroep. Sy het uit die kamer gekom en skote in die rigting van die verdagtes begin afvuur. Een van die verdagtes is doodgeskiet en ’n ander gewond. Die vier verdagtes het van die toneel gevlug.
Ben is ook gedurende die aanval gewond en is saam met sy vrou na ’n hospitaal vir behandeling geneem. Netwerk24 berig Rintie het ook twee koeëlwonde opgedoen toe die aanvallers op haar geskiet het. Een van die skote is deur haar femur en die ander het haar heup getref. Sy is gisteroggend geopereer.
Volgens Mophiring word ’n saak van moord en twee sake van poging tot moord ondersoek.
Die polisie en boere in die omgewing se soektog na die verdagtes het niks opgelewer nie. Die polisie versoek enigiemand met inligting om dit by CrimeStop, 08600 10111, of MySapsApp aan te meld.