
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die landelike veiligheidskoördineerders konst. Sello Nkhobo en adj.off. Motsejoa Lehloma het die klagte ontvang dat 85 beeste op 7 Julie omstreeks 02:45 op ’n plaas in die distrik Virginia gesteel is.
Die beamptes het dadelik ondersoek ingestel en die beeste se spore begin volg. Hulle het 55 van die beeste op ’n hoewe opgespoor. Hulle het die spore vir nog sowat 25 km tot by ’n plaas gevolg waar hulle omstreeks 08:30 nog ses beeste opgespoor het.
Die beamptes het aangehou om die beeste se spore te volg en omstreeks 10:00 nog 21 beeste in mielielande op ’n plaas gevind. Die totale waarde van die beeste wat opgespoor is, is sowat R820 000. Drie koeie word steeds vermis en ’n klag van veediefstal is vir verdere ondersoek geregistreer.
Enigiemand met nuttige inligting word versoek om kapt. Malete, bevelvoerder van die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, by 082 388 5113 te kontak.