
’n Plaas in die Bultfontein-omgewing in die Vrystaat is teen R54 000/ha op ’n veiling verkoop.
Die plaas Kareepan 513 is 480 ha groot en is 8 km buite die dorp op die Bultfontein-Hoopstad-pad geleë.
Dit het voorheen aan die Linde-familietrust van mev. Christine Linde en haar vier dogters behoort en is verhuur sedert mnr. Orgie Linde se dood 26 jaar gelede.
Volgens mnr. Linde Fourie, ’n vennoot by die regsfirma Beukes & Beukes wat die trust se sake hanteer, is die plaas op ’n veiling verkoop om al die belangstellendes ’n regverdige kans te gee.
Fourie sê sowat 70 mense het die veiling bygewoon en van die sewe geregistreerde kopers het drie mense, almal van buurplase, tot op die einde gebie.
Mnr. Flippie Blignaut van die Sardinia-trust, wat die plaas al die afgelope 10 jaar huur, was die suksesvolle bieër.
Fourie sê die goeie prys was ’n verrassing nadat plase in die omgewing verlede jaar sover bekend teen R28 000/ha en R30 000/ha verkoop het. Pryse in die omgewing het die laaste paar jaar baie gestyg.
Fourie skryf die goeie prys vir Kareepan daaraan toe dat die plaas op ’n veiling verkoop is, dat dit ’n gesogte stuk grond is, en dat dit min gebeur dat só ’n groot stuk grond in die mark kom. Dit is droëland en saaigrond waarop hoofsaaklik mielies die laaste jaar geplant is, maar waar sonneblomme ook geplant kan word.
Fourie sê die grond het meestal goeie oeste met hoë opbrengs opgelewer, ondanks min reën die afgelope twee jaar. Die gebied kry gemiddeld 400 mm tot 450 mm reën per jaar.
Die prys wat behaal is, sluit net die plaas in en nie enige diere of werktuie nie. Daar is ’n onbewoonde, maar goed opgepaste woonhuis met buitegeboue.
Die goeie prys het baie kommentaar op die Facebook-groep Landbou Sosiaal uitgelok. Sommige mense het dit as “belaglik” beskryf, terwyl ander verwys het na die goeie opbrengs wat moontlik is en dat grond in die algemeen al skaarser en duurder word.