
Mnr. Gilly Scheepers wat in distrikte Fouriesburg, Paul Roux en Bethlehem in die Oos-Vrystaat boer, is Vrydagaand in Midrand, Gauteng, as Graan Suid-Afrika se Graanprodusent van die Jaar bekroon.
Hy produseer hoofsaaklik mielies in 'n wisselbouprogram met koring en droëbone. Scheepers boer ook met Afrikaner-Sussex-kruisbeeste waaruit speenkalwers geproduseer word en Merino-skape op veld in die somer en aangeplante weiding in die winter, asook hoenders, waarvoor 'n groot deel van sy mielies aangewend word.
Prof. Maryke Labuschagne, hoof van die afdeling planteteelt aan die departement plantwetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein, is as Graanwetenskaplike van die Jaar bekroon. Dit is die eerste keer dat 'n vrou hierdie toekenning ontvang.
Sy het waardevolle werk oor die genetiese verbetering van die gewasgehalte van koring en mielies gedoen, onder meer oor gluten-proteïen in koring, wat die belangrikste bepaler van koring se bakgehalte is. Labuschagne is vroeër ook as Landbouskrywers SA se Landboukundige van die Jaar aangewys.
Mnr. Israel Motlhabane van Wesselsbron is vanjaar se Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar. Hy ploeg sowat 600 ha grond vir die verbouing van mielies. Motlhabane pas minimum-bewerking toe.