
Die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse pluimveebedrywe kan vennote wees om saam die robuuste geleenthede in Suider-Afrika te ontwikkel, sê sen. Chris Coons.
In Suid-Afrika is daar egter "wanbegrip en wankarakteriserings" van die gehalte van Amerikaanse hoender en Amerika se bedoelinge om uitvoergeleenthede te soek, het Coons in die Amerikaanse staat Delaware aan 'n besoekende groep Suid-Afrikaanse joernaliste gesê.
Coons het by 'n verwerkingsaanleg van Mountaire Farms, die sewende grootste geïntegreerde pluimveeprodusent in dié land, met die groep gepraat.
Hy het in 2014 en 2015 hard geveg dat Suid-Afrika sy hoendermark oopstel vir die invoer van Amerikaanse hoenderstukke aan die been, as voorwaarde om deel te kon bly van die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa).
'Wanneer die debat warm is'
Coons het gesê as politikus verstaan hy dat karakteriserings plaasvind wanneer 'n debat baie warm is. "Maar dit is nou tyd om maniere te vind om mekaar te respekteer en saam te werk."
Die pluimveebedryf is 'n baie belangrike deel van die ekonomie van Delaware, 'n klein staat noord aan die Amerikaanse Ooskus, noord van Washington.
"Ek is van 'n staat waar twee motoraanlegte moes toemaak. Mense hier was ontsteld dat Suid-Afrika toegelaat word om (motorprodukte) tariefvry na Amerika uit te voer, maar die belangrikste landbouproduk (hoender) van my staat kon (weens teenstortingstariewe) nie uitgevoer word nie."
Tariefvoordele
Onder Agoa geniet Suid-Afrika tariefvoordele vir die uitvoer van sowat 1 800 produkte na die VSA. Die hoenderkwessie is sowat twee jaar lank onderhandel en het uiteindelik gelei tot 'n ooreenkoms dat 65 000 ton hoenderstukke aan die been per twaalfmaandetydperk Suid-Afrika sonder teenstortingstariewe mag binnekom.
Coons het gesê hy het gehoop 'n wen-wen-situasie sou vir albei lande bereik kon word, en dat daar 'n vennootskapsverhouding sou ontwikkel het waarin vaardighede en tegnologie uitgeruil sou kon word, buitelandse belegging sou plaasvind, en geleenthede in die SA pluimveebedryf verbeter sou word.
Amerika is volgens hom van die wêreld se voorste pluimveeprodusente, wat sowat 20% van sy produkte uitvoer.
SA is die anker
Hy beskou Suid-Afrika as "die anker" van die Suider-Afrikaanse streek en sê daar is byna onbeperkte potensiaal vir die twee lande se bedrywe om saam 'n robuuste pluimveebedryf in Suid-Afrika te ontwikkel.
"Pluimvee is die proteïen wat die meeste belofte inhou vir 'n honger vasteland en planeet."
In albei lande is daar groot ongelykhede rakende toegang tot geleenthede en hulle kan by mekaar leer oor programme wat gewerk het om hieraan aandag te gee.
Droogte en duur invoer
Coons het gesê hy verstaan die moeilike omstandighede waarin die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf weens die droogte en stygende invoer is.
"Miskien moet jul Regering dié lande vra (van waar die meeste hoender ingevoer word) wat hulle doen om jul bedryf te ontwikkel en mededingend te maak".
* Carien Kruger is 'n Landbouweekblad-joernalis wat dié toer meemaak. Die mediagroep is deur die Amerikaanse raad vir die uitvoer van pluimvee en eiers (USAPEEC) na Amerika geneem.