
Hoewel Amerika vanuit verskeie oorde gekritiseer word omdat hy steeds die gebruik van mielies vir etanol toelaat, ondanks ’n aansienlik kleiner verwagte oes, is die besluit op die AMT-vooruitskouingskonferensie in Pretoria verdedig.
Mnr. Jerry Norton, voorsitter en graananalis van die Wêreld-landbouvooruitskouingskomitee in Amerika, sê dié besluit is geneem omdat die hoeveelheid mielies wat vir etanol gebruik word, min is in vergeleke met die wêreld se totale produksie en verbruik. Volgens ’n grafiek wat hy vertoon het, word 2,1% van die wêreld se graangebiede se gewasse vir etanolproduksie gebruik, terwyl 97,9% vir ander gebruike gaan.
“Daar is ook ’n sterk ekonomiese behoefte aan die gebruik van etanol,” aldus Norton.
Minder mielies vir veevoer
Hy sê hulle het die afgelope paar jaar in Amerika ’n daling gesien ten opsigte van die gebruik van mielies vir veevoer. Volgens statistiek is 250 miljoen ton mielies in die 2007/’08-boekjaar vir dié doel gebruik, en dit sal na verwagting in die 2012/’13-boekjaar nader aan 175 miljoen ton beweeg.
Amerika se mielie-aanplantings is vanjaar die hoogste wat dit in 75 jaar was. Aan die begin van die seisoen is ’n oes van 376 miljoen ton mielies verwag.
’n Erge droogte met rekordhoë temperature het dié land getref, en in sommige dele het dié hoë temperature tot 16 dae lank geduur. Norton sê 87% van die gebied wat beplant is, het onder ’n mate van droogte deurgeloop.
Die verwagtinge vir dié oes is intussen met sowat 100 miljoen ton verlaag tot 274 miljoen ton. Amerika is die wêreld se grootste mielieprodusent.